IMG 9 Settlers Pen trnsp web Dit is gepas dat die koms van die Britse Setlaars in 1820 en hul nalatenskap vanjaar een van die fokuspunte van GGSA is. In 2020 vier ons die 200ste herdenking van die aankoms van die eerste Britse Setlaars in Suid-Afrika. Die Britse regering het in 1819 ’n bedrag van £50 000 goedgekeur ter ondersteuning aan individue wat bereid was om na die Kaap te emigreer. Die politieke, ekonomiese en sosiale druk in Brittanje ná die beëindiging van die Napoleontiese oorloë, en die gelyktydige intensifisering van die Industriële Revolusie was so hoog dat sowat 80 000 mense hiervoor aansoek gedoen het. Slegs naastenby 4 000 is egter uiteindelik gekeur om Brittanje te verlaat.
Die grootste gedeelte van hierdie groep het hulself aan die oosgrens van die destydse Kaapkolonie gevestig. Hulle was nie die eerste of laaste Britse emigrante wat na die Kaap gekom het nie, maar dit was die enigste staatsondersteunde skema wat 'n taamlike groot Engelssprekende gemeenskap na 'n bepaalde streek in Suid-Afrika geneem het. Baie van hulle het geen landboukundige agtergrond gehad nie en is uiteindelik na dorpe soos Port Elizabeth, Oos-Londen en Grahamstad waar hulle gewerk het as smede, kleremakers en in ander ambagte wat in Engeland aangeleer is. Dit het bygedra tot die ontwikkeling en ekonomiese vooruitgang van die dorpe. Verskeie van die Setlaars sou mettertyd ook geheel en al met die plaaslike Afrikaanse bevolking integreer, sodat hul nasate vandag regdeur Suid-Afrika versprei is.
Is jy moontlik ’n nasaat van die 1820 Setlaars? Is daar dalk ‘n 1820 Setlaar iewers in jou stamboom wat wag om ontdek te word? Verwys na artikel 1-5 hieronder  om die wiele van jou navorsing aan die rol te sit. ‘n Stel artikels verskaf meer detail (slegs beskikbaar in Engels):
Vir meer inligting, verwys na: The 1820 Settler Correspondence