Noord -Transvaaltak - Onthoupaadjies

Ons leef geskiedenis elke dag – en dit word uiteindelik ook deel van ons eie persoonlike geskiedenis. Die wêreld verander so vining dat ons jeugherinneringe reeds verstomming by vandag se jongmense ontlok: aande sonder TV, oproepe maak by ‘n tiekieboks, kerkdienste onder ’n groot boom tydens seevakansies…  Genealogie vra dat ons ook ons eie stories opskryf en ander saamneem op ons onthoupaadjies.
Navigeer na die video, teks en skyfiestel van die aanbieding. Die onderwerp reflekteer die taalkeuse van die aanbieding. Vir die opsomming van elke praatjie, lees hieronder.
  Kliek op die vir oopmaak/aflaai
DATUM VERTELLER ONDERWERP
 VIDEO 
TEKS
SKYFIES
2020-03-15            Hannie Pretorius My jare as 'n jong kraamsuster
2020-05-03 Thys du Preez My jeugjare
2020-06-01 Trysie Joubert Toe Trysie Joubert Sersant W van Zyl was
2020-06-05 Rentia Landman My skooljare

My jare as 'n jong kraamsuster

HHannie Pretoriusannie Pretorius, 14 Maart 2020
Die eerste spreker in ons nuwe rubriek Onthoupaadjies (‘Down Memory Lane’) was Hannie Pretorius. In ʼn kort en pittige praatjie het sy haar ervaring as jong verpleegstudent en later as kraamsuster met die tak gedeel. In daardie dae is diagnoses sonder vandag se moderne apparaat gemaak. Hulle het darem ʼn fetoskoophorinkie gehad waarmee na die hartjie van die baba geluister is om afleidings te kon maak.
Die eerste opleiding van vroedvroue in die Transvaal het in die Krugerhuis in Kerkstraat plaasgevind waar president Kruger se kleindogter, mev. Elsie Broekhuizen, die woning vir elementêre kraamopleiding beskikbaar gestel het. Daarna is die Bond vir Afrikaanse Moeders in 1919 gestig wat tot die oprigting van die Moedersbond gelei het. Sy het haar praatjie afgesluit met die boodskap dat die lewe kosbaar en die geboorte van elke babatjie baie spesiaal is.
Luister na Hannie se vertelling in haar eie stem. Met dank aan Neels Niesing wat die video-opnames van die middag se praatjies gemaak het.

My jeugjare

Thys du Preez, 3 Mei 2020Thys du Preez
In sy volgepakte geskrewe bydrae oor sy jeugjare, vertel Thys hoe hy op die platteland grootgeword het, deels in 'n erg afgesonderde gemeenskap bo-op die Piketberg in skoon lug en die pragtige natuur.
Sy pa was ʼn laerskoolonderwyser wat in 1937 deur die onderwysdepartement gevra is om die skool daar te gaan regruk omdat dit het nie goed gegaan nie. Die skool is later na hom vernoem. In daardie jare is hulle nog onderrig in die “simpel” Imperiale stelsel van ponde, sjielings en pennies. Vir die Britse koningsgesin se besoek in 1947 het hulle min ooghare gehad; hulle was “nie juis liefhebbers van konings wat boonop Engels praat nie.” Hy was ‘n groot liefhebber van Tarzan-boeke.
Thys het later op Stellenbosch gaan studeer, en gesorg dat hy elke jaar “veilig slaag”, omdat sy pa gemaan het dat hulle nie geld het om te mors nie. Hy is later na Ikeys vir nagraadse studie en nog later na Tukkies vir ‘n M-graad. Tog glo Thys dat hy as een wat ‘n lewenslange aanvoeling vir die komiese gehad het, dalk nooit werklik sy jeug ontgroei het nie.

Toe Trysie Joubert Sersant W van Zyl was

Trysie Joubert banier webTrysie Joubert, 1 Junie 2020
In 1972 is Trysie se aandag getrek deur ‘n koerantbylaag oor die opleiding van vroue in die SA Polisie, wat haar aangespoor het om daarvan ‘n loopbaan te maak. In hierdie vertelling wei sy entoesiasties uit oor die aanvanklike basiese opleiding wat bykans ‘n militêre karakter met streng dissipline behels het. Hulle moes leer marsjeer, is met traanrook bestook (darem met ‘n gasmasker toegerus) en geleer om ‘n pistool veilig te hanteer en te skiet.
Daarná het hulle verdere opleiding ontvang in misdaadondersoek, regsvakke, hantering van ramptoestande, noodhulp en selfverdediging. Haar uitpassering het ‘n indrukwekkende parade ingesluit. Trysie was later een van ‘n handvol vroue wat ‘n speurderskursus voltooi het en op verskeie plekke gedien het. Sy is ooglopend trots op haar polisieloopbaan – wat net te kort was.

My skooljare

Rentia webRentia Landaman (née Reid), 5 Junie 2020
Van die bitter-koue Wakkerstroom waar Rentia se pa ‘n onderwyser was, het sy goeie herinneringe aan die plot (kleinhoewe) waar sy grootgeword het, asook die skool wat vir haar nog “lekkerder” was. Hier het sy hop-scotch en ‘vyf-klip’ gespeel (wat hulle hand-oog-koördinasie ontwikkel het). Daar was ‘manna’ om onder die bloekombome te soek om te eet, paddavissies om tussen die riete te vang om groot te maak en mostuine aan te lê.
Met kortpouse het Rentia tyd gehad om Ma se toebroodjies te eet, terwyl sy met langpouse wanneer speletjies georganiseer is, verkies het om ‘rounders’ eerder as korfbal te speel. In die winter het sy en haar maats op ‘n oopgetrapte kartonboks teen ‘n skuinste afgegly of op ‘n geroeste paal gebalanseer om die droë watersloot oor te steek – ‘n oefening wat skynbaar vandag vir kinders met disleksie gegee word.
Hoewel plattelandse dorpies ‘n gebrek aan leesstof gehad het, het Rentia die Jongspan en Patrys deur die pos ontvang, en ook die Transvaler-koerant ‘n dag of wat laat kon lees. Vir die kinders was dit opwindend om boeke van die provinsiale boekewa te kry wat die biblioteek kom aanvul het. Dit was Vrydagoggende en Dinsdagmiddae oop, en jy het vinnig een van die twee toegelate boeke klaargelees om nog een uit te neem voordat dit sluit.
Rentia glo die grootste geskenk was om net gewoon kind te kon wees.