Louna Coetzee fotoDavid Engela, 14 November 2020
Die titel van David se aanbieding kom uit sy skooljare toe hy in Pretoria by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) deur 'n senior gevra is: "Van watter Engelas is jy?" Hy was baie verbaas, want tot toe was David onder die indruk daar is slegs twee Engelas in die land, sy Pa en hyself.
Hoewel sy belangstelling in die familie reeds vroeg beslag gekry het (van sy Ouma aan moederskant), het David eers onlangs in 2018 ernstig navorsing begin doen.
Hy het wel met sy Ma se oorlye in 2016 'n boekie deur Hercules Jurgen Engela gekry: Die Engela-familie 1738-1991. Sy oogmerk is nou om die boekie se data by te werk.
Sy metodiek was om aan te sluit by MyHeritage en Ancestry, wat gratis is indien jy 'n stamboom daarop bou, en hy het ook gou besef Google en FamilySearch is waardevol: "van onskatbare waarde" soos hy sê. So-ook Facebook.
Hy het in Oktober 2018 lid van GGSA se Noord-Transvaaltak geword. Vir die Erfenisstigting se biblioteek het hy groot waardering en spandeer baie tyd daar.
Onder die opskrif 'Vrae, Ontdekkings, Skades, Skandes en bietjie Brag', lig David interessante feite oor die Engela-voorsate uit. Uit die skeepsregister van die 'Beukensteijn' wat hy uit die Nederlandse argiewe gekry het, sien hy dat Jurgen Hendrik Engelaar na die Kaap gekom het en as onderwyser by Casper Batenhorst gewerk het.
'n Testament wys dat Jurgen se van Engela is, dus nie meer Engelaar nie. Hy  is in 1746 in die Kaap met Anna van Staden, weduwee van Van Niekerk, getroud. Daar is geen verwysing na 'n eerste vrou nie, wat moontlik gesterf het, of nooit self na Suid-Afrika gekom het nie. Die ander moontlikheid is dat Jurgen 'n bigamis was, indien hy nooit van die eerste vrou geskei is nie.
David se oupagrootjie Thomas Willem Engela (1880-1928) was 'n Kaapse Rebel wat in die Anglo-Boereoorlog geveg het en gevange geneem is. Hy is by Graaff-Reinet verhoor en na Bermuda verban, tot lewenslange harde arbeid gevonnis. Dit is egter verkort en later is amnestie verleen. Hy het 'n tabakhandelaar en haarkapper-onderneming in Bureaulaan in Pretoria bedryf.
Van die Engela-familie was ook slagoffers van die Spaanse Griep van 1918. Ander familielede het opgang in kultuurkringe gemaak, onder andere Johann Engela, 'n komponis en radio-omroeper wat eens met Mimi Coertse getroud was. Daar was ook 'n skilder en komponis, skrywers en Charl Andries Engela (1911-1994) wat 'n beeldhouer was. Vandag bevind Engelas hulself oral in die wêreld.
Lesse wat David geleer het, sluit in om 'n spesifieke doel na te streef en altyd inligting te verifieer. Genealogie is 'n obsessie en navorsing kom nooit klaar nie. Belangrik is ook om genealogie nie in isolasie te bedryf nie. Moet nooit opgee nie; vra iemand wat kan help.