Ontmoet die familie Pottas

Written by Ferdie Van Wyk.

                                                                                                                                     Potchefstroom Herald 30 Maart 2017
Of jou van nou POTTAS, POTHAS of POTAS is - jy is familie. Daar is egter ‘n gesin wat nie deel van die Pottas-familie vorm nie, naamlik die krieketspeler Nicolaas Pothas, wat op 'n stadium gedurende die 1990's vir Noord-Gauteng krieket gespeel het. Hy en sy vader is van Griekse afkoms. Sy oupa was 'n kontrakteur in die destydse Belgiese Kongo. Hy het later na Suid-Afrika gekom en is ongeveer in 2000 op een van die Griekse eilande oorlede. Daar het ook Russiese Joodse immigrante gedurende 1917 tot 1920 na Suid-Afrika gekom wat hul van as “Potash” spel.
Terug na die groter groep. Johann Simon is die stamvader van al die POTTAS-, POTAS,- POTHAS-families in Suid-Afrika. Die van word ook gespel as Pothast, Pothard, Pothorst, Posthast, Posthoff, Pottasch, Poltas, Botas, Botaas, asook 'n paar ander variasies. Die drie spelwyses wat in die begin vermeld word, is egter die aanvaarde spellings deesdae.
Die stamvader is in September 1736 gebore en is die seun van Johann Henrich POTHAST en Anna Margaretha DIEBROCKS. Hy het oorspronklik gewoon te Schwalenberg, Kreis, Lippe, wat ongeveer 160 kilometer suidwes van Hanover in die staat Nordrhein-Wesfalen in Duitsland geleë is. Daar is alreeds in 1231 'n inskrywing deur die hoofbiskop van die streek wat verwys na die “oppidium Saulenberg”, soos die dorpie toe bekend gestaan het. Aangesien die dorpie nie tydens die Tweede Wêreldoorlog gebomdardeer is nie, is baie van die geboue aldaar reeds ouer as 300 jaar.
Johann tree op 10.06.1761 in diens van die VOC in Nederland. Hy gaan as soldaat aanboord van die skip “De Vrouwe Geertruyde”, wat op 6.10.1761 onder bevel van kaptein Willem Everdingen van der Nieuwpoort uit Texel, Nederland vertrek en op 13.02.1762 in Kaapstad arriveer. Aan boord was 222 seeman, 103 soldate, 14 ambagsmanne en 6 passasiers. Johann is een van 15 soldate wat in die Kaap aanwal gestap het.
Hy was aanvanklik 'n soldaat tot 1762. Later word hy in die VOC se lyste van "Wagenryders en Beestewagters" vir die jare 1763 tot 1767 as 'n "Wagenrijder aan de Schuur" vermeld.
Hy tree uit die diens van die VOC op 13.01.1767 toe sy kontrak met die VOC beëindig is. Hierna word hy 'n "Vrijburger" aan die Kaap. In die Monsterrolle van die tyd, word hy aangeteken as 'n vrygesel, wat woonagtig in die Kaapstad omstreke is. Hy besit 'n geweer en 'n “degen”.
Hy is getroud met Maria NIEMANN, dogter van Diederik NIEMANN en die “vrije bastardin” Elizabeth VOOGD, en teen 1773 was hulle reeds woonagtig in die Swartland. Vanaf 1773 tot 1785 doop hulle 5 van hul 6 kinders in die NG Kerk Swartland in die hedendaagse Malmesbury. Teen 1805 word hy vermeld in die distrik van Swellendam en in 1806 is daar die laaste vermelding van hom.
Sy nageslag stam almal van sy een seun, Johannes Hendrik (gebore 1778) af. Hierdie nasate is deesdae oor die hele wêreld versprei. Sommige dra die familienaam en ander is afstammelinge van sy dogters met ander vanne.
Die eerste keer wat ‘n Pottas ‘n têrsiere kwalifikasie behaal het, was in die vyfde geslag. Voor dit was matriek selfs ‘n uitsondering in die familie. Die Pottas-familie is klaarblyklik swerwers. Daar is al die opmerking gemaak dat die Pottasse met wiele in plaas van voete gebore is.
Die Pottas DNA vind sy oorsprong uit Noordoos-Afrika. Dit het via Duitsland weer sy spore na Afrika teruggevind. Vandag kom Johann Simon se nageslag voor in meer as 20 lande wêreldwyd.
Bron: Johan J. Pottas - Die Pottas skerwe vanaf Schwalenberg tot Windhoek.
Vir meer inligting besoek die Genealogiese Genootskap se webwerf by www.genza.org.za