Ellen HarmseWilhelm Bernhardt 2022
Wilhelm Bernhardt is gebore op 7 Januarie 1970 in die Provinsiale Hospitaal op die dorpie Belfast, in die destydse Transvaal. Hy is die oudste seun van Wilhelm Bernhardt en Jacomina Johanna Venter. Sy kinderjare was sorgeloos en is Meestal deurgebring op die dorpie Waterval Boven, waar hy dan ook op laerskool was as leerling aan die Laerskool Oosterlijn, waar sy ouers onderwys gegee het. Hierna het hy 5 jaar lank elke dag bus gery om uiteindelik in 1987 te matrikuleer aan die die Hoërskool Belfast.
Na skool is hy Tukkies toe, waar hy ‘n graad in Politieke Wetenskappe behaal het in 1990, en ‘n Honneursgraad in Staatsleer in 1991. Hy sluit hom in 1992 aan by die Nasionale Intelligensiediens, tans die Staatveiligheids Agentskap. In 1998 behaal hy ‘n Meestersgraad in Politieke Wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, en in 2004 voltooi hy sy D. Phil aan die Universiteit van Pretoria, weereens in Staatsleer, met as onderwerp die toepassing van risikobestuur beginsels in die statutêre intelligensie en nasionale veiligheids konteks. Wilhelm se voorliefde vir geskiedenis en genealogie is deur verskeie persone aangevuur, maar sy oupa aan moederskant, Willem Frederik Venter, moet waarskynlik die meeste krediet hiervoor kry.
Oupa Willem, ‘n besonder intelligente man en boer van die Machadodorp distrik, het die geskiedenis en stories van sy onderskeie voorgeslagte op die punte van sy vingers geken, en het dit male sonder tal aan sy kinders en kleinkinders oorvertel. Wilhelm, wat in die jaar 2000 met Isabel Nel getroud is, het reeds ‘n paar genealogiese publikasies agter die rug, waaronder sy magnum opus, wat in 2015 verskyn het, met die titel: “Die Familiegeskiedenis van Corli en Anica Bernhardt”. Hierin verken hy die voorgeslagte en geskiedenis van sy twee dogters aan beide vaders-en moederskant (altesaam 32 families, 16 aan vaderskant, en 16 aan moederskant), tot by die onderskeie stamvaders en-moeders.
Hy is ‘n sterk voorstander van ‘n holistiese benadering tot genealogie, en bevorder dus beide stamboom navorsing, sowel as die breër konsep van wetenskaplik-gefundeerde familiegeskiedenis skrywing. In 2020 wen hy die GGSA se toekenning vir beste artikel in Familia, en in 2021 word hy verkies tot Voorsitter van die GGSA se Noord Transvaal Tak. Wanneer hy nie met genealogie besig is nie bestee hy sy vrye tyd aan geskiedskrywing, boekversameling, die restourasie van klassieke motors, ritte op sy motorfiets, reis saam met sy vrou, die deursnuffel van antieke winkels en -markte, en om sommer net in sy motorhuis aan allerhande dinge te peuter.