Kommentaar van deelnemers

“Ek, David Engela (Penningmeester) en Annemarie Dreyer (Onder-Voorsitter), saam met nog so paar GGSA lede vanuit ons tak en van oor die hele land, het die afgelope maand ‘n week verlof geneem om Ellen Harmse se Gauteng Argieftoer mee te maak. Waarom? Wel, ek kan nie namens die ander praat nie  maar ek het twee redes gehad. Eerstens wou ek sien waaroor al die bohaai gaan. Waarom is deelnemers telkens so ingenome met Ellen se toere? Later meer hieroor. My tweede rede was sonder twyfel baie meer selfsugtig van aard. Ek wou myself die absolute luukse van ‘n week se navorsing, sonder enige werksdruk of ander onderbrekings gun.  Daar is ‘n bekende Engelse gesegde wat lui dat die natuur ‘n weersin aan ‘n vakuum het; ‘n leë spasie moet gevul word. Wel, ek moet bieg: ‘n genealoog kan eweneens nie  met ‘n vakuum in sy of haar familieprentjie saamleef nie. Ek moes dus eenvoudig noodgedwonge myself voltyds daaraan wy om ‘n paar oorblywende leë spasies te gaan vul (ek is seker julle weet waarvan ek praat ...).
In hierdie opsig het Ellen se argieftoer al my verwagtings oortref. Ek kon na hartelus navorsing  aan die hand van primêre bronne doen sonder dat enigiemand my onderbreek het, en sonder dat ek voorgesê is wat om te doen. Dankie daarvoor Ellen! Ek voel na dese ten volle bemagtig om al die plekke wat ons besoek het in die toekoms sonder enige onsekerheid op my eie te kan benut. Nou terug na my eerste oorweging. Daar is net een rede waarom Ellen se toere so gewild is: Ellen Harmse mág maar ‘n argief toer reël. Glo my, sy weet presies wat sy doen. Of jy nou ‘n beginner, of ‘n meer gevorderde navorser is, daar is plek vir jou op elkeen van Ellen se toere. Sy weet hoe om jou en jou spesifieke behoeftes te benader, en sy sorg dat daar geen buitestaanders tot die groep is nie. Een en almal raak geholpe. Ellen gee selfs vir jou middagete, met nagereg nogal, hetsy onder ‘n stowwerige sink afdakkie by die Nasionale Argief, of in die LDS Kerk se lieflike lowerryke tuine in Parktown. Daarom beveel ek Ellen se argieftoere ten sterkste vir enige lid van die Noord-Transvaaltak aan. Dit is ‘n ongelooflike voordeel van lidmaatskap. Bederf dus jouself gerus, jy sal nie spyt wees nie. Boonop is dit spotgoedkoop. Ek gaan sommer volgende jaar weer!”
Dr Wilhelm Bernhardt (GGSA NTvl-tak Voorsitter), 2021 Gauteng Archive Crawl, Die Genealoog, Okt 2021
“Die Navorsingtoer van Ellen Harmse met 15 ander lede was ‘n groot heerlikheid. Haar baie deeglike inligting oor al die aspekte van die argiewe, GISA en Hugenotemuseum,  was  puik!
Die lekkerste was om jou nuwe kennis van die argief te kon benut en in die doopregisters by GISA, die inskrywings van jou ouers, ooms en tante kon kry! Beslis ‘n toer om aan te bevel en met groot lof aan Ellen as toerleidster!”
Annita Visagé (Noordwestak) 2015 Wes-Kaaptoer
“Ek het absolute hoendervleis gehad toe ek die 113 jaar oue oorspronklike dokument in my hande kon hou. Stories vertel is fantasties, maar om hierdie dokument en sy storie voor jou te sien is onbeskryflik.”
Danie Joubert (Wes-Gautengtak) 2020 Gauteng Archive Crawl
“Dit is met net 'n enkele sterfkennis wat ek in die Bloemfonteinse argief in my hande kon hou, dat ek op die spoor van die hele Lategan-familielyn van my moederkantse grootouers kon kom. Vir jare was dit die ontwykende verbinding wat ek nie kon maak nie en daar val dit in plek met net die name van ouers en kinders op 'n enkele sterfkennis. Dit maak die toer na die Bloemfonteinse argief vir my vir twee redes die moeite werd, omdat jy daardie oomblik daar kan deel met ander wat saam met jou daar is en omdat die inligting jou net daar weer nuwe dryfkrag gee vir soveel meer!  Die Oorlogsmuseum is ontroerend treffend en 'n moet vir elkeen wie se families op een of ander manier deur die Anglo-Boereoorlog geraak is. Ek kan enige tyd hierdie argiewetoere aanbeveel - dit maak net navorsing soveel meer persoonlik en interessant en die toer laat jou toe om in 'genealogie' met mekaar te kan praat. Die argiewetoere is altyd 'n belewenis en beslis die moeite werd!  Hoop dit kan bydrae lewer tot advertensie vir die argiewetoere en as ek kon, het ek graag elke keer gegaan!”
Elmarie Cronjé (Noord-Transvaaltak) 2016 Vrystaattoer
“Ek is dankbaar vir die geleentheid wat geskep is waartydens ek oor vyf dae op my persoonlike navorsing kon fokus. Ek kon weer dokumente, wat ek jare gelede geraadpleeg het, herbesoek om fynere detail aan te teken. Ek kon ook mede-navorsers tydens gesellige pieknieketes, wat Ellen met moeite vir ons voorberei het, beter leer ken. Baie dankie!”
Isabel Groesbeek (Noord-Transvaaltak) 2020 Gauteng Archive Crawl
“Om vir dae lank in die Kaapse Argief te sit en data te versamel, is een van die mees gees-verruimende gebeurtenisse wat 'n mens kan ervaar! Veral as dit plaasvind saam met goed-ingeligte toerlede wat Genealogie loop, eet en praat. Hierdie ondervinding het my as totaal-oningeligte aspirant genealoog te beurt geval toe ek van 12 tot 17 Augustus in die Moederstad op my voorouers se spore kon terugloop.”
Johanna Viljoen (Noord-Transvaaltak) 2018 Wes-Kaaptoer
“Tou op gooi in genealogie is nie ‘n opsie nie! Na meer as ses jaar se soek na ‘n oupagrootjie se geboortedatum, het ek dit die laaste dag in die argief gevind! En die lekker daaraan verbonde, was dat ek dit met mede-navorsers kon deel wat weet wat so ‘n fonds beteken.”
Linda Lombard (Noord-Transvaaltak) 2018 Wes-Kaaptoer
“Die toer na die Wes -Kaap gedurende Augustus 2017 was vir my baie suksesvol, want ek het gevind waarna ek gesoek het. Die begeleidende toerlede was spesiaal en baie behulpsaam aangesien hulle bereid was om te deel en te help met wenke en advies. Daar was groot opgewondenheid toe die lede ontdek en vind waarna hulle gesoek het, en ons het almal deelgeneem aan hul opgewondenheid en vreugde!”
Mike Hendriks (eGGSA-tak & Southern Family History Society) 2017 Wes-Kaaptoer [vertaal]
“Die leerervaring met die vooraf huiswerk het my goed voorberei om nuwe data te soek.   Een van die groot verrassings was ‘n nuwe spelling van ons van [familienaam] waarop ek by die Nasionale Argief afgekom het. Ek het ook terselfdertyd op heelwat dokumente afgekom wat nou verdere opvolgwerk vereis – navorsing genoeg tot in die nuwejaar.”
Nico Doman (Noord-Transvaaltak) 2020 Gauteng Archive Crawl
“Ek kon meer uitvind oor my oumagrootjie, wat in die 1880's op die Diamantveld agter gelaat is, deur haar man wat verdwyn het, en ek het ook die broers en susters van my ouma begin bymekaarmaak. Daar is nog baie meer navorsing wat ek moet doen. ”
Pat Bauer (Vrystaat- & eGGSA-tak) 2017 Wes-Kaaptoer [vertaal]
“Die hoogtepunt van my besoek was toe ek die name van my oumagrootjie, Isabella E Beukes, sowel as dié van my ouma (my pa se ma), Catharina (die Engelse het dit verkeerdelik Catrina geskryf) in die Heilbron Konsentrasiekampregister ingeskryf, gesien het.  Johan van die ABO Museum het my ingelig dat hulle later na die Kabusie Konsentrasiekamp by Stutterheim oorgeplaas is.  By die ABO Museum het ek ook bevestiging gekry dat my oupagrootjie Beukes en sy oudste seun as bannelinge Umballa, Indië toe gestuur is. Nog ‘n belangrike ontdekking was my oumagrootjie se ma, Elizabeth Margaretha Heymans, se doodinskrywing in die Casualty Register van die Heilbron Konsentrasiekamp.  Sy was 79 jaar oud.  Ek het ook haar naam op die ererol van ABO afgestorwenes gevind.”
Rina Steenkamp (eGGSA-tak) ) 2016 Vrystaattoer
“Die vonds om 'n gesoekte plaas te kon opspoor, die inligting om FamilySearch beter te benut en die gewillige helpers in die biblioteek het die toer vir my baie sinvol gemaak. Groot lof aan Ellen vir die deeglike voorbereiding om ons navorsingsfiks te kry en ook haar goeie reëlings vir elke dag die hele week. Welgedaan Ellen.”
Rina van Wyk (Noord-Transvaaltak) Gauteng Archive Crawl
“Daar is baie genealogiese inligting op die internet; as jy gelukkig is, kan jy 'n sterfkennisse kry van die persoon wat jy ondersoek, veral as jy ook die distribusie-rekening vind, kan hierdie navorsing jou baie jare neem. In die Nasionale Argief vind jy hierdie inligting, baie vinnig (indien beskikbaar), asook talle ander brokkies inligting wat jou familiegeskiedenis sal verbeter en 'n insig kan gee in hul lewens.
In my geval was sommige van die inligting wat ek kon vind: 'n pragtige prentjie van die boot waarop my oupa as seuntjie gedien het; 'n prentjie van die Midland Railway-konstruksie (Graaff-Reinet) met 'n stoommotor in die agtergrond (my oupagrootjie was 'n stoommotorbestuurder) en 'n kwitansie van die klooster in King Williams Town vir die herstel van 'n venster wat my ouma of haar suster gebreek het.
Maar die beste van alles is dat jy die oorspronklike testamente, sterfkennisse en ander items wat deur jou voorouers geskryf is, kan sien en aanraak. Ons is opreg dankbaar vir die sorg wat die argiefbeamptes van Kaapstad toepas oor ons dokumente en vir hul ondersteuning.”
Robert Bush (Johannesburgtak) 2017 Wes-Kaaptoer [vertaal]
“Die GGSA se Wes-Kaap Argiewetoer het uiteindelik op 22 Mei 2022 tot 27 Mei 2022 plaasgevind na ‘n twee jaar uitstel weens die Covid-pandemie. Ons het tuisgegaan in ‘n hotel in Kaapstad se middestad met goeie diens en ‘n uitstekende restaurant.
Ellen Harmse het vir twee jaar elke Donderdag inligting-e-posse gestuur om die deelnemers in die navorsingsmetodiek van die onderskeie argiewe in te lyf.”
Sandra Hughes (Noord-Transvaaltak) 2022 Wes-Kaaptoer