Bloemfontein argieftoer (September 2023)

Die tipiese toer na die Vrystaat begin op ‘n Sondagoggend met 'n minibusrit na Bloemfontein. Daar bly ons in 'n hotel met twee maaltye per dag. Sommige lede bly natuurlik in die Vrystaat of vlieg uit ander provinsies in. Alles kan gereël word en onkostes word daarvolgens aangepas.
Twee volle dae word in die Vrystaatse Nasionale Argief deurgebring, en Woensdag is ons gaste van die Boereoorlogmuseum (Anglo-Boere-oorlogmuseum, ABO). Maar dit is nie net 'n gewone museumbesoek nie. Siende dat die deelnemers reeds die verwysings na ‘n groot hoeveelheid beskikbare inligting bestudeer het, is hulle bestellings oor persone, gebeure, gevangenes, sterftes, ens. reeds deur die museum voorberei.  Groot is die verrassing om daar te kom en die netjiese individuele stapels te vind met dokumente, foto's, kaarte en lyste. Persoonlike onderhoude word gereël met die goed toegeruste en kundige personeellede.
Die vierde dag bied 'n besoek aan die konsentrasiekamp-begraafplaas of aan die nasionale biblioteek voordat die minibusreis terug na Gauteng begin.