[Die Potchefstroom Herald 29.11.2013]

Die Van Breda's was onder die mees welgestelde en vooraanstaande families aan die Kaap gereken en het van die mooiste plase in die Kaap besit.  Die bekendste van die talle ou herehuise en tuinwonings in Kaapstad wat hulle besit het, was Oranje Zigt, Nooitgedacht, De Hoop, Zorgvliet, Rozenhof, Rhee Zigt, Koorn Hoop en Molenvliet in Mowbray en Boshof in Wynberg.  Op hierdie plase het hulle mooi ou herehuise gebou en vir eeue bewoon.
Die stamvader, Pieter van Breda, kom op Woensdag 19.7.1719 met die skip Spiering, as soldaat in diens van die VOC teen 9 gulden per maand in die Kaap aan. Hy was ‘n kleremaker van beroep en het blykbaar aangeneem dat hy ‘n goeie bestaan daaruit hier sou kon maak, want op 15.7.1721 word hy ‘n vryburger om sy beroep te be-oefen en ‘n maand later, op 17.8.1721, tree hy in die huwelik met die sewentienjarige Catharina Smuts, enigste dogter van die stamvader Michiel Cornelisz Smuts en Cornelia Eenmaal van Middelburg, Zeeland.  Hulle het een seun en een dogter gehad.
Op 6.2.1725 besluit die Politieke Raad om hom ook as “aanspreeker” aan te stel. ‘n Aanspreeker was die persoon wat mense na die begrafnis moes uitnooi en die orde tydens die begrafnis moes handhaaf deur byvoorbeeld toe te sien dat almal in die begrafnisstoet volgens rang en status beweeg.  Dus gedeeltelik die pligte wat ‘n begrafnisondernemer vandag verrig.
Op 19.12.1731 koop hy Oranje Zigt, in Tafelvallei, groot 570 vierkant roede van Johannes Strydom vir 2 000 gulden kontant.  Hier sou hy en sy nageslagte met groente en vrugte boer wat hulle aan die verbygaande skepe en inwoners van Kaapstad verkoop het.
Seker die bekendste Van Breda van alle tye was Michiel van Breda, agterkleinseun van die stamvader, gebore op Oranje Zigt 25.9.1775 en ook daar oorlede op 12.8.1847, boer en Kaapse politikus – President van die Burgersenaat en later Lid van die Wetgewende Raad.  Op sy plaas Zoetendals Valleij in die Strandveld anderkant Bredasdorp boer hy baie suksesvol met  merinoskape.  Bredasdorp, gestig in 1838, is na hom vernoem.  Vanaf 1840 tot 1844 was hy ook Kaapstad se eerste Burgemeester.
Net soos sy vader was hy ook drie keer getroud.  Maar wat nie algemeen bekend is nie, is dat hy ook ‘n buite-egtelike verhouding gehad het.  Teen die begin van die 1840's gaan bly ‘n niggie van sy eerste vrou, Catharina Sophia van Reenen, op Oranje Zigt om na hom om te sien op sy oudag.  Hy was toe reeds 65 jaar oud.  Maar binne twee jaar het hulle twee buite-egtelike dogters want hulle het nooit getrou nie.  Kort na die geboorte van die tweede dogter in 1843 sterf Catharina Sophia op Oranje Zigt en die twee dogtertjies word aangeneem deur hul oupa Jacob van Reenen.  
Die eerste paar geslagte Van Breda's was aan Deze Uythoek vasgekluister maar weldra sou die binneland hulle ook wink. Een gesin vertrek op die Groot Trek na Natal en later na die Transvaal en daarna selfs tot in Kenia.  Die nageslag van Jan Adam Michielse van Breda   verhuis omstreeks 1870 na die diamantvelde in Kimberley en vandaar versprei hul nageslagte oor die huidige Noordwesprovinsie.
Van Breda nasate kry jy vandag kruis en dwars oor hierdie land versprei tot selfs anderkant die Limpopo en in Namibië.  Die afgelope paar dekades het sommiges begin emigreer na lande soos Australië, Nieu-Seeland, Engeland, Kanada en die VSA.
[Bydrae deur Johan van  Breda: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. ]