Geskryf deur Johan Pottas
                                                                                                                                                                                                                                         Potchefstroom Herald 21.6.2013
Wie is Elizabeth VOOGD,  wat is haar posisie in die Suid-Afrikaanse Genealogie en wat het wyle Dr Beyers NAUDE en advokaat Leon WESSELS in gemeen?
Elizabeth is die dogter van die Duitser Claus VOOGD  (VOIGT) en ene Elizabeth of Christina (sy word by beide name vermeld). - Klaasvoogdsrivier in die Wes-Kaap is na Claus vernoem.
Elizabeth was vir langer as 50 jaar in ‘n saamwoonverhouding met Diederik NIEMANN, seun van stamvader Johann NIEMANN en Anna Margaretha PUTTER. Diederik beskryf sy lewensmaat soos volg in sy testament gedateer 16/05/1765: “....Zoo verklaar der Testateur als nooijt getrouwd gewezen zynde no geene ouders in't leven hebbende aan wien enige geregtelijke makinge beskuldig is, tot zyne enige en universeele erfgename te noemen en te instiuteer gelijk doen by deesen, de Vrije Bastaardinne Elizabeth Voogd, nevens hare seven kinders in name: 1-Jan; 2-Elizabeth Margaretha getroudt met de Landouwer Cristoffel Beukman; 3-Johanna Catharina getroudt met de Metselaar Philip Petrus Spies;  4-Claus; 5-Pieter; 6-Frederik; 7-Maria.”
Uit hierdie 7 kinders sou vele vanne in geheel afstam om maar ‘n paar te noem: BEUKMAN, Philip Peter SPIES, POTTAS/POTHAS/POTAS, BAGLEY, John Charles CHURCH, JANKOWITZ, John MCCRATE, Henry William TAYLOR. Groot dele van die NIEMAN/NIEMAND/NIEMANN, VAN ZYL, LOURENS, WOLFAARDT, DU PREEZ, BARNARD, BEYLEVELD, BEZUIDENHOUT, BOTHA, CILLIERS, CLAASSEN, DE VILLIERS, DU PLESSIS, DU TOIT, FERREIRA, FOURIE, GREYVENSTEIN, GROBLER/GROBBELAAR, HENNING, HUMAN,  JOUBERT, KRUGER, MARAIS, MYBURGH, NAUDE, OLIVIER, OPPERMAN, PELSER, PIENAAR, POTGIETER, PRETORIUS, SCHOEMAN, SMIT, SMITH, SMOOK, SNYMAN, SWANEPOEL, VAN DEN BERG/H, VAN DER MERWE, VAN DYK, VAN HUYSSTEEN, VAN NIEKERK, VAN WYK, VILJOEN, VORSTER, WESSELS, ZAAYMAN en ZIETSMAN. Haar nageslag is sover gevind in oor die 2000 Suid-Afrikaanse vanne.
Wat maak Elizabeth VOOGD besonders in die Suid Afrikaanse genealogie? Sy is slegs die tweede bekende KHOI / SAN vrou en die eerste wat deur wetenskap bewys dat sy ‘n nageslag onder die blanke bevolking nagelaat het. Die meer bekende KHOI / SAN vrou is Eva, die vrou van Pieter VAN MEERHOF, wat as tolk gebruik is deur Jan VAN RIEBEECK, wie se dogter Pieternella getroud is met die ZAAYMAN stamvader.
Nadat Johan POTTAS verskeie kere navraag gedoen het oor vroulike nasate van Elizabeth VOOGD het twee van hulle hom gekontak.
Naomi Elizabeth HAUPT getroud met Paulo DE VALDOLEIROS, laat doen in 2008 'n mitokondriese DNA toets by die MRC/NHLS/WITS HUMAN GEONOMIC DIVERSTY AND DISEASE RESEARCH UNIT (HGDDRU) asook Penelope Mary BOND, getroud en geskei van Michael BOWES, dogter van William Robert BOND en Penelope Elfrieda BRIGHT. Die toetse se uitslag plaas beide in die L0d2 haplogroep. Die L0 haplogroep is die oudste oorlewende haplogroep in die wêreld, dit word wydverspreid gevind in sub Sahara Afrika. Die groep word verder onderverdeel in die volgende haplogroepe: L0a, L0d, L0f en L0k. Die L0 haplogroep het ontwikkel ongeveer 100 000 jaar gelede. Die L0d word gereken die oudste van die L0 stamme te wees en is algemeen aan die KHOI en SAN van Suidelike-Afrika. Dit word ook gevind in frekwensies van 4 tot 40% in verskillende Suidoostelike Bantoesprekende stamme. Hierdie haplogroep word verder verdeel in L0d1, L0d2 en L0d3. Die verspreiding van die haplogroep L0d en sy subverdelings dui sterk daarop dat dit sy oorsprong het in die KHOI en SAN voorsate, voor die aankoms van die Bantoesprekende bevolkingsgroepe in Suidelike-Afrika.
Oom Bey en Leon stam beide uit Elizabeth Voogds en is “sixth cousins once removed”, waar Leon ‘n geslag jonger is. Skrywer  hiervan (Johan Pottas)  is ‘n “sixth cousin” van oom Bey en ‘n “fifth cousin once removed” van Leon, waar Leon ‘n geslag ouer is.
[Besoek die Genealogiese Genootskap van SA se webwerf  www.genza.org.za vir meer inligting]