The Genealogical Society of South Africa
  • Home
  • Herald-NW Genealogy Series
  • Ontmoet die Slabber(T) Familie

Ontmoet die Slabberts

SLABBER(T)-FAMILIE – MET OF SONDER

                                                                                                      [DIE POTCHEFSTROOM HERALD 1 NOV 2013]

Of  jy die van  met of sonder ‘n “t” spel, maak nie saak nie.  Die stamvader van die Slabber(t)-familie in Suid-Afrika is Floris Maertense Slabbert.
Oor die oorsprong en betekenis van die Slabber(t)-van word daar  nog bespiegel.  Sommige sê dit kom van die vissersterm “slabbere” wat beteken “om op die water te dryf, terwyl daar visgevang word”.  Ander sê dit verwys na die ou naam vir ‘n haring.
Vyf maande nadat Floris en sy gesin op die skip, Sion vanuit Nederland vertrek het, het hulle op 27 Oktober 1699, met nagenoeg 24 ander persone, voet aan wal aan die Kaap gesit.  Van die 200 persone aan boord van die skip, het ‘n totaal van 21 persone gesterf. Die res van die passasiers het hul reis na Ceylon voortgesit. Die bevolking aan die Kaap was op daardie stadium 1308 blankes en 838 slawe.
Floris is gebore in die dorp Aagtekerke op die eiland Walcheren in die provinsie Zeeland, Nederland  en is op 7 Oktober 1656 gedoop. Hy was die vyfde kind van Maerten Adriaanse Slabbaert en Janneke Lormije.  Sy pa was ‘n wewer van beroep.  Dit is onbekend wat Floris se beroep in Nederland wes.
Hy is vergesel deur sy eggenote Huibreghje Jaspers, met wie hy op 15 April 1684 te Aaagtekerke en Westkapelle in die Provinsie Zeeland, Nederland in die huwelik getree het.  Agt van sy nege kinders het hulle ook vergesel.  Een van sy seuns het vermoedelik voor 1696 in Meliskerke, Nederland gesterf.
Daar kon verskeie redes wees waarom Floris besluit het om ‘n nuwe heenkome aan die suide van Afrika te vind.    Teen 1670 het Nederland ekonomies agteruit gegaan. Nederland  het kolonisasie planne aan die suide van Afrika gehad en het gunstige voorwaardes aan aspirant emigrante gestel.  Dit het ‘n gratis seereis, ‘n  plaas, landbou-implemente en saad ingesluit. Het hierdie aantreklike aanbod Floris oortuig om sy wortels uit Nederland te trek?
Sewe jaar na sy aankoms aan die Kaap, het Floris die plaas “Contermans Kloof “aan die voet van  Tygerberg gekoop. Hy kry ook ‘n  weilisensie  op 7 Desember 1707 op die grond, wat geleë is aan die mond van die Soutrivier.  In dieselfde jaar het hy weidingsregte op die plaas Suurfontein, naby Piketberg bekom.  Floris was ‘n suksesvolle boer en het oor baie vee beskik.  Hy met wingerd geboer en heelwat koring gesaai.
In 1715 was die Kaapse mark vir landbouprodukte beperk en het die Politieke Raad besluit om die prys van koring te verlaag. Floris Slabbert en 11 van sy mede-landbouers, wat ‘n tiende van hul graanopbrengs aan die Kompanjie moes lewer omdat hulle vrypaggrond ontvang het, het heftig hierteen beswaar gemaak.   Dit sou nie die moeite werd wees vir hulle om verder te boer nie.
Die verset-brief  is in vele opsigte ‘n historiese dokument, omdat dit onderteken is deur die eerste boere wat grond buite die Tafel-en Liesbeekvalleie ontvang het.  Die brief bevat ook ‘n unieke versameling van handtekeninge van verskeie Suid-Afrikaanse stamvaders, waaronder ‘n Van der Westhuizen,  Walter, Van den Heever en Eksteen.
Alhoewel die Slabber(s) oor die land versprei is, vind ons die meeste spore van Floris se nageslagte  aan die Weskaap  (onder andere in Malmesbury, Riebeek Kasteel, Piketberg en Clanwilliam), asook die Suid-Kaap (o.a. in Aberdeen, Jansenville, Graaff-Reinet en Uitenhage).
Frederik Van Zyl Slabbert (2 Maart 1940 –15 Mei  2010) was een van die meer bekende Slabberts. In 2004 is hy aangewys as die 82ste mees invloedryke Suid-Afrikaner op ‘n SABC3-program. Hy was ‘n akademikus,  die voormalige leier van die Progressiewe Federale Party (1979 – 1986),  politieke ontleder, sakeman, skrywer en Vise-Kanselier van die Universiteit van Stellenbosch  (2008 -  2009).