The Genealogical Society of South Africa
  • Home
  • Herald-NW Genealogy Series
  • Hugenote 1688-2013

Hugenote-1688-2013

 Potchefstroom Herald 26.4.2013

Met die 325ste herdenking van die aankoms van Die Voorschoten in Saldanhabaai op 13 April 1688 as die eerste skip met Hugenote aanboord wat as deel van die amptelike kolonisasie na die Kaap gekom het, is dit dan ook gepas om hierdie eerste aflewering aan die Hugenote families te wy.
Die nadraai van die herroeping van die Edik van Nantes en die vervolging van die Protestante in Frankryk deur Lodewyk XIV het tot gevolg gehad dat baie van hulle gevlug het. Aan die einde van die sewentiende eeu het ’n groot aantal Franse vlugtelinge hulle dan ook oor die wêreld heen gevestig.
Die heel eerste Hugenoot aan die Kaap van Goeie Hoop was Maria de la Quellerie, die eggenote van kommandeur Jan van Riebeeck. In Oktober 1671 het die “vrijwagenmaker” Francois Villion (later Viljoen) in die Kaap aangekom, die eerste Hugenoot om hom hier te vestig. Daarna het Jean de Long (de Lange) en sy gesin in 1685 gevolg, en die volgende jaar die broers Guillaume en Francois du Toit, almal op eie inisiatief.Die groot groep vlugtelinge het egter eers in 1688 gearriveer. Die Voorschoten, vertrek op 31.12.1687 uit Texel, Nederland.. Die skip was veronderstel om direk na Tafelbaai te seil, maar op 13.1.1688 word die kaptein deur  ʼn stormwind gedwing om by Saldanhabaai te land. Die volgende dag stuur kapt. Valerius ʼn Khoikoi boodskapper na die Kaap om hulp te vra, waarna die Goewrneur die Jupiter gestuur het met lewensmiddele en toue om die Franse vlugtelinge na die Kaapte bring, waar hulle op 26.4.1688 aankom.
Benewens die Voorschoten het die Oosterland, Borssenburg, De Schelde, China, Zuid-Beveland en Wapen van Alkmaar vlugtelinge na die Kaap vervoer. Kleiner groepe Hugenote het tot ná 1700 aangekom. Hugenote families was o.a. Blignaut, Cellier, Cordier, Cronje, de la Porte, de Villiers, du Plessis, du Preez, du Randt, du Toit, Fouche, Fourie, Gauche, Jacobs, Jordaan, Joubert, Labuschagne, le Clerq, le Grange, le Roux, Lombard, Malan, Malherbe, Marais, Minnaar, Mouton, Naude, Nel, Nortje, Pienaar, Retief, Rossouw, Roux, Terreblanche, Theron, Viljoen, om maar enkeles te noem.
Tussen 1688 en 1689 het 158 Hugenote as deel van die VOC se amptelike immigrasiebeleid na die Kaap gekom. Teen 1702 is die vryburger-bevolking op 1 368 gestel, waarvan 250 Hugenote was - amper 20% van die totaal.
Die Hugenote het doelbewus plase tussen die Nederlandse vryburgers op verskie plekke ontvang: ’n paar in die Tafelvallei; ander naby die huidige Somerset-Wes en Stellenbosch, maar meestal in die Bergriviervallei tussen Franschhoek (oorspronklik Olifantshoek) en Wellington (Wagenmakersvallei). Plase met name soos Boschendal, le Plasier Merle, l’Arcd’Orleans, Lekkerwyn, Bellingham, La Motte, La Provence, La Bri, La Cotte, La Dauphine Champagne, Versailles Picardi. La Concorde, Calais, Orleans ens is aan die immigrante toegeken.
Die eerste  Hugenote was hoofsaaklik geskoolde ambagsmanne en vakkundiges, en onder hulle tel beroepe soos skrynwerker, wamaker, ystersmid, skoenmaker, tandarts, barbier, “chirurgyn” en onderwyser. Van boerdery het hulle nie veel geweet nie, behalwe enkele wynmakers en brandewynstokers. Anders as wat algemeen geglo word, het die Hugenote nie van meet af aan wingerde aangelê nie; dit neem van vyf tot sewe jaar voordat ʼn aangeplante wingerd in produksie kom. Om te oorleef is aanvanklik gekonsentreer op korttermyn kontant gewasse soos koring, vrugte, groente en vee. Heelwat later sou hul nasate van die mees vooraanstaande wynboere van die Weskaap word.
Die Hugenote se koms 325 jaar gelede is vandeesmaand herdenk met die onthulling van ʼn sonwyster by die Hugenote Monument in Franschhoek, en word afgesluit met feesviering die laaste naweek van Oktober 2013 tydens die Algemene Jaarvergadering van die Hugenote Vereniging van Suid-Afrika.
Saamgestel deur Andrew Kok en Christo Viljoen.
[Besoek Die Hugenote Vereniging van Suid-Afrika se webblad by: http://www.hugenoot.org.za/]   .