The Genealogical Society of South Africa
  • Home
  • Herald-NW Genealogy Series
  • Die de Beers in Suid-Afrika

Die de Beers in Suid-Afrika

Waar kom ek vandaan? Waar het my voorouers oral gebly? Elke mens het ‘n voorgeslag en die meeste het ook ‘n nageslag en dit gee aan ‘n mens ‘n bepaalde identiteit en hopelik ook ‘n bepaalde familie-bewustheid en ‘n familietrots. Die De Beers is alreeds 325 jaar in Suid-Afrika en tel onder die 50 bekendste vanne met ‘n getalsterkte tussen 20 000 en 20 500 volgens kieserslys gegewens.
Daar het aanvanklik twee De Beers op verskillende tye onafhanklik van mekaar na Suid-Afrika gekom, naamlik Jan Dirkse de Beer en Matthys Andries de Beer. Jan is in 1675 hier getroud en kan dus beskou word as die eerste stamvader. Hy het net een seun gehad naamlik Dirk Africanus wat blykbaar geen nageslag gehad het nie.
Matthys Andries de Beer het waarskynlik ongeveer 1698 na die Kaap gekom. Hy is op 24 Oktober 1705 met Hilletje Smit te Stellenbosch getroud. In die huweliksregister word sy plek van herkoms aangedui as Wase. Hieroor was daar baie bespiegelings maar die nuutste navorsing deur dr. Johan de Beer van Stellenbosch asook sy DNS-inligting dui aan dat Matthys van die hawestad Vaasa in die huidige Finland na die Kaap vertrek het. Dit word gestaaf deur onlangse navorsing aan die UP deur Christoff Erasmus. Volgens dr. Johan de Beer is die De Beers se DNS-profiel vandag nog algemeen in Finland. Hy sê dat Matthys se vertrek na die Kaap saam val met ‘n hongersnood wat die huidige Finland in die jare 1696-1697 geteister het. Nagenoeg ‘n derde van die Finse bevolking van omtrent 400 000 het in hierdie tyd van honger gesterf.
Die De Beers in Suid-Afrika stam dus feitlik almal van Matthys af. Hierdie tweede stamvader moet dus as die “hoofstamvader” en sy naam as die stamnaam van die De Beers in Suid-Afrika beskou word.
Matthys het nege kinders gehad. Die oudste twee sterf tydens die pokke-epidemie in 1713 aan die Kaap. Drie van Matthys se seuns het ‘n nageslag gehad.
As getroude man het Matthys en sy vrou eers in Stellenbosch gewoon. Na Matthys se dood het Hilletje ‘n plaaswoning betrek. Daar was beeste en skape asook 8 000 wingerdstokke. Met verloop van tyd is die kinders uit die huis. Later woon Hilletje by haar oudste seun, Zacharias en sy familie.
Die grond rondom Stellenbosch was hoofsaaklik geskik vir landbou en daar was nie genoeg goeie weiding nie. Die gevolg hiervan was dat boere (ook die De Beers) met hulle vee al verder die binneland ingetrek het. Die treklewe was nie maklik nie en daar was ook geen permanensie van woonplek nie. Teen 1762 besluit die HOIK om aan die Swarteberg leenplase beskikbaar te stel. So trek die De Beers almal na die omgewing van die huidige Prince Albert.
Blykbaar het ‘n hele aantal De Beers aan die Groot Trek deelgeneem. Dis te verstane, aangesien heelwat van hulle later op die Oosgrens gewoon het. So het Abraham de Beer bv. die Van Rensburg-laer te hulp gesnel tydens die moorde by Bloukransrivier waar ongeveer 500 mense uitgemoor is. So was daar ook ‘n klompie De Beers betrokke by die Slag van Bloedrivier omdat Andries Pretorius van die De Beers van moederskant afgestam het.
Praat van De Beers en mense dink aan diamante. Diederik Arnoldus de Beer en Johannes Nicolaas de Beer het die plaas “Vooruitzicht” besit. Dit is op hierdie plaas waar diamante ontdek is en wat gelei het tot die totstandkoming van Kimberley.
Die verhaal van die kinderheldin Rachel de Beer, is welbekend en ‘n aantal skole en strate is na haar vernoem Ongelukkig kon sy nog nie feitelik binne ‘n geslagslyn geplaas word nie.
Na die Tweede Wêreldoorlog het verstedeliking snel toegeneem en ons vind De Beers in dorpe en stede in alle beroepe. (Bydra deur Jaleen De Beer This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. )