Potchefstroom Herald 29 Oktober 2015
Die stamvader van die Pienaars, Jacques Pinard, is op 18.6.1866 in Nantes, Frankryk gebore. Hy bekwaam homself as timmerman, en trou op 10.1.1687 in die Franse kerk St. Aechten (die "Prinsehof,") in Delft (Nederland) met Esther Foucher (Fouché). Albei het daarheen gevlug a.g.v. die vervolging van Protestante in Frankryk na die opheffing van die Edik van Nantes in 1685.

Die egpaar vertrek saam met twintig ander Franse vlugtelinge op die skip "Voorschoten" na die Kaap van Goeie Hoop - die eerste skip wat met Franse vlugtelinge na die Kaap vertrek het. A.g.v. 'n sterk suidoostewind moes die "Voorschooten" op 13.4.1688 in Saldanhabaai anker gooi, en is die Jupiter vanaf Tafelbaai gestuur om hulle na die Kaap te bring.
Die plaas "Lustig Aan" geleë aan die Wildepaarderivier (ʼn sytak van die Bergrivier), naby die Klein Drakensteinberge digby Paarl, is in Augustus 1694 aan Jacques en sy vrou toegeken. Sy van se spelling het spoedig verander van Pinard na Pienaar.
Uit hul huwelik is twee seuns gebore. Die oudste, Pieter (Pierre) (1690) tree later in die huwelik met Johanna (Jeanne) Terrier.Hulle trek die binneland in: weilisensies is aan hom tot so ver as "anderkant die Gourits" (1743).
Die tweede seun van die stamouers, Jacques (1692) tree in die huwelik met Louisa Cordier. Hulle trek noord-ooswaarts waar weilisensies aan hom toegeken word in die Bokkeveld.
In 1697 sterf Esther Foché op die buurplaas "Wildenpaardejacht" van Philippe Foucher. (Laasgenoemde plaas was tot onlangs in besit van oudpres FW de Klerk).
In 1698 trou Jacques met die 15-jarige Martha le Febre, by wie hy ses kinders het. Twee van hulle, Jean (Jan) (1708) wat trou met Catharina Botha, en Salomon (1710), wat trou met Sara Oosthuyzen, plant die stamnaam voort. Albei broers en hulle gesinne trek binneland toe in die omgewing van die Gouritsrivier en latere Swellendam.
Die stamvader Jacques was een van die Hugenote wat die klagskrif teen WA van der Stel onderteken het ten tyde van die Adam Tas rebellie van 1706.
Pienaars het hulself op verskeie terreine in die Suid-Afrikaanse openbare lewe onderskei, waarvan slegs enkeles genoem word.
Pienaarsrivier heet na Petrus Gerhardus Jacobus Pienaar (1819), wat later noordwaarts trek en uiteindelik in Zoutpansberg vestig.
Die woonbuurt Dan Pienaar in Bloemfontein is vernoem na Daniel Hermanus Pienaar (1893), wat hom as generaal tydens die tweede wêreldoorlog onderskei het in gevegte in Noord-Afrika, o.a. by Sidi Rezegh, Gazala en Alamein. Hy verongeluk op 19.12.1942 by die Victoriameer toe sy vliegtuig neerstort. Dit word gesê dat genl Jan Smuts hom gesien het as sy opvolger in die Verenigde Party.
Andries Albertus Pienaar (1894) is beter bekend as die skrywer Sangiro.
Pierre de Villiers Pienaar (1904) het bekendheid verwerf op die gebied van spraakterapie en fonetiek, en as woordeboeksamesteller. Sy seun Uys De Villiers Pienaar (1930) was parkehoof van die Kruger wildtuin, en later Hoofdirekteur van Nasionale Parke.
Johannes Jacobus (Jack) Pienaar (1877), ʼn boerekryger tydens die ABO, neem deel aan die rebellie van 1914, en word later administrateur van Transvaal.
Schalk Willem Pienaar (1916) het hom onderskei in die joernalistiek en koerantredakteur van Beeld.
Prof. Kristo Johannes Pienaar (1922) was ʼn wêreldbekende plantkundige en amateur toneelspeler.
Meer onlangs het Jacobus Francois Pienaar (1967) bekendheid verwerf as Springbok rugbykaptein wat die Rugby wêreldbeker in 1995 verower het, Trix Pienaar van Pringlebaai het bekendheid verwerf as aktrise, en Antoinette Pienaar van Beaufort-Wes as "kruiekoningin".
Dan is daar Prof Gerrit Pienaar wat departementshoof was van die department joernalistiek by die destydse PU vir CHO en en sy seun Prof Gerrit Pienaar, tans by die regsfakulteit van die NWU se Puk-kampus en ook Prof Peet Pienaar, wat bekend was vir sy weervoorspellings.
[Saamgestel deur ChristoViljoen ( This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.) - Besoek die Genealogiese Genootskap van SA se webwerf www.genza.org.za asook http://www.hugenoot.org.za/Viljoen/ vir meer inligting.]

]