Potchefstroom Herald 26 Junie 2015

Francois Villion arriveer in Oktober 1671 aan die Kaap as die eerste Hugenoot wat hom as "vrij wagenmaker" hier kom vestig het.
Op 17.5.1676 tree hy in Kaapstad in die huwelik met Cornelia Campenaar, ʼn "jongdogter" van Middelburg, Nederland, wie hy ontmoet het terwyl hy vyf jaar vantevore daar op ʼn skeepsreis na die Kaap gewag het. In 1682 ontvang die egpaar Viljoen die plaas Idasvallei, distrik Stellenbosch, van Simon van der Stel, waar hy tot sy dood in 1689 geboer het. Hier word hul ses kinders gebore, waarvan twee seuns Henning en Johannes, die stamnaam voortgeplant het as stamhoofde van onderskeidelik die Henning-stam en Johannes-stam van die Viljoens.
Francois se van is oorspronklik Villion gespel, later Viljon en uiteindelik die hedendaagse Viljoen.
Die twee broers Henning en Johannes trou onderskeidelik met 'n ma en dogter: Henning met Margaretha Theresia de Savoye (weduwee van Christoffel Snyman), en Johannes met Catharina Snyman, Margaretha se dogter uit haar eerste huwelik met Christoffel Snyman). Johannes se skoonsuster was dus ook sy skoonma. Henning het een seun, ook Henning, nagelaat om die stamnaam voort te plant, terwyl Johannes ook een seun, genaamd Johannes, gehad het.
Die stamouers se agterkleinkinders was egter talryk: in die Henningstam is twaalf,
en in die Johannes stam agt kinders onderskeidelik gebore, waarvan vier seuns in elke
stam die familienaam kon voortplant.
Die nasate van die Henning-stamouers het grootliks na die binneland getrek, en vandaar deelgeneem aan die Groot Trek na die noorde. Die Voortrekker Gerhardus Petrus Viljoen se seun Hans is die stigter van Viljoenskroon, wat na hom en sy lieflingperd Kroon vernoem is.
Die Viljoens het minstens vyf generaals opgelewer, waarvan genl Ben Viljoen en genl Piet Retief Viljoen albei naam gemaak het tydens die ABO. Eersgenoemde emigreer na die VSA in 1904, en sowat vyftig nasate woon vandag nog daar, hoofsaaklik in Kalifornië. Een is ʼn vlieënier in die Amerikaanse lugmag, en die ander een ʼn professionele Cowboy in Montana.
Genl Constand Laubscher Viljoen is die jongste toevoeging tot die Viljoen generaals.
Die Viljoens het ook ‘n Britse sir gelewer: Antonie Gysbert Viljoen, wat hom as geneesheer bekwaam aan die Universiteit van Edinburgh, Skotland. Na sy terugkeer word hy distriksgeneesheer van Krugersdorp, asook persoonlike arts van pres Paul Kruger. Tydens die ABO is hy gevange geneem en na Elgin in die Kaap verban. Hier besef hy die potensiaal van die omgewing vir appelboerdery, en na afloop van die oorlog begin hy met appels boer, en word hy beskou as die grondlegger van die appelbedryf in die Elgin/Gabrouw omgewing. In 1916 word hy tot ridder geslaan. Hy en sy eggenote, Johanna (Maggie) Beyers, het net drie dogters nagelaat, sodat die ridderskap nie voortgesit kon word nie. In sy testament bepaal hy dat die familieplaas Oak Valley net deur ʼn nasaat met die van Viljoen geërf mag word, waarop sy dogter Johannah Jakobmina Krugerina se man, George Crundwell Rawbone, sy van verander na Rawbone-Viljoen om aan die voorwaarde te voldoen. Vandag nog behoort die reuse Oak Valley plase in Elgin aan die Rawbone-Viljoens. Die Viljoen-pas tussen Elgin en Villiersdorp is na hom vernoem.
Ander bekendes is Marthinus Jacobus Viljoen, die adjunkpresident van die ZAR, en Marais Viljoen, eerste nie-uitvoerende president van die RSA. Prof Gerrit van Niekerk Viljoen was die stigter-rektor van die RAU, en dien later as kabinetsminister. ʼn Familieverhaal, wat nie bevestig kan word nie, is dat grootwildjagter Jan Viljoen, boer van Vergenoeg in Groot Marico, die eerste blanke is wat die Victoria waterval besoek het, en later vir Livingstone die pad daarheen beduie het.

[Saamgestel deur ChristoViljoen ( This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.) - Besoek die Genealogiese Genootskap van SA se webwerf www.genza.org.za asook http://www.hugenoot.org.za/Viljoen/ vir meer inligting.]