The Genealogical Society of South Africa

Kinders van Ontheemdes

KINDERS VAN ONTHEEMDES DEEL BLYE WEERSIENS NA 50 JAAR.
Die Volksblad: 6 Okt.2015.

image


ʼn Halfeeu van verpakte herinnering is verlede naweek deur afstammelinge van ontheemde boeregesinne van nou die Wildtuin-Tussen-die Riviere uitgepak.
Kinders van 50 jaar gelede is nou meestal ouer as wat hulle ouers was toe hulle in 1965-1967 die gebied moes verlaat omdat hul voortbestaan deur die bou van die Gariepdam bedreig sou word.
Die groep wat die re-unie bygewoon het is die twee kinders van Jan en Corrie du Plessis van Du Plooy’s Rust (Petro en Doep), vier van Simon en Rita du Plooy van Brakfontein (Koos, Chris, Simon en Marietjie) en drie van Willem en Lena Kruger van Spes-Bona (Lettie, Lena en Mariaan).
Dit het weggespring met vreugdevolle uitroepe van weersiens, verbasing en selfs ongeloof oor die spore wat vyftig jaar nagelaat het

.
ʼn Paar gemene delers:
Heimwee is sterk deur elkeen verwoord. Hulle onthou die dae toe hul standvastige bestaan en behoort soos ʼn mat onder hulle voete uitgeruk is. Dat hulle nie herwaarts of derwaarts geweet het nie. Die ontnugtering wat hulle ouers byna tot stomheid geslaan het. Hulle hulpeloosheid om hul ouers op so ʼn byna hulpelose lydensweg te sien gaan. Hulle rotse wat kort duskant vermurwe omdraai.
Die harteloosheid van politici wat aan die spits gestaan het met allerlei dreigemente indien die boere nie hul aanbiedinge sou aanvaar nie. Hofsake wat in Grahamstad onverrigtersake daarteen gevoer is. Dit wek vandag nog ʼn tikke bitterheid, omdat waardeerders wortels in katoen en wyn gehad het en bloedweinig van die streek en sy boerdery geweet het.
Pragtige opstalle waarop hulle trots was, waar hulle geborge gevoel het en saam met die werkers ʼn eenheid met wedersydse respek gevorm het - en skielik was alles weg!
Die geld wat aan die boere uitbetaal is was in die meeste gevalle nie genoeg om elders plase van dieselfde omvang te gaan koop nie. Jan du Plessis (Du Plooysrus) kon in dieselfde distrik slegs twee-derdes van die grootte van sy twee plase koop en moes sy skaapkudde van meer as 2 000 tot sowat 1 000 afskaal. Sy ontnugtering is wyd gedeel.
Die spyker in daardie gesinne se herinneringe was toe alles met die grond gelyk gemaak is sodat geen twee stene opmekaar bly staan het nie.
Maar die naweek was nie bedoel om gal te braak nie. Staaltjies van regte kindwees in ʼn Christelike gemeenskap waar wedersydse geloof, liefde en respek gemeenskapsvlae was, is met mekaar gedeel.

image


Verhale van ouers wat Maandagoggende vroeg op ‘n primitiewe grondpad kollektief kinders dorp toe en skool toe karwei het en hoe kort-kort stilgehou moes word om ys van die vooruit af te skil. Hoe bure se kinders deur die veld gestap het om vir mekaar te gaan kuier.
Verlede Saterdag (26 Sept. 2015) het die konvooi op toer deur die wildtuin onder lowergroen koelte reuse op Brakfontein neffens waar die Du Plooy’s se posstal was, uitgespan om middagete te nuttig. Daarna is almal terug na die kamphuise waar tot laat in die saal gebraai is en gekuier is.
Dan nog gemene delers: Geeneen is wrokkig oor die verlede nie. Almal is uiteraard dankbaar vir die geleentheid om te kom afsluit. Te ervaar wat ʼn pragstuk die nalatenskap van hul ouers se landgoedere nou daar is. Die pragtige wild en natuurskoon het die hartsnare geroer.
Dankbaarheid omdat die mense wat moes padgee, soos hul voorsate, met die Hugenotegees en in geloof kon opstaan, hervestig en hul kinders kon help om ʼn staanplek te kry – al was dit wyd versprei.
Nog ʼn stukkie nostalgiese trots is dat hul opofferinge gehelp het dat die Gariepdam kon verrys en as een van die land se sierade pronk.

Piet Theron-(Bethulie)

Die artikel is geplaas met die instemming van die redakteur van die Volksblad