Genealogiese bronne vir die Familienavorser in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se Argief, 7 Mei 2012, VOORGEDRA te Klerkdsorp 3 September 2012 Nándor Sarkady, Argivaris
Vir die doeleindes van familienavorsing binne ‘n kerkargief en die NHK is daar sekere kernpunte van belang.
Die maklikste is om dit in veel voorkomende vrae te antwoord: Wat van die Naam, wat is Hervormd en Gereformeerd ? Dit lei soms tot groot verwarring wanneer na doopseels gekyk word en almal nie so op hoogte van kerkgeskiedenis is nie. Na die planting van die Kerk op Kaapse bodem in 1652 word gepraat van die Christelike Gereformeerde Religie/Godsdiens (sien bv die Dagboek van Van Riebeek.)
Die naam Gereformeerd en Hervormd is hoofsaaklik vanaf 1795 met die einde van die Verenigde Nederlandse provinsies en die VOC, as sinoniem begin gebruik in Nederland en dus ook by die Kaapse dogterkerk. Onthou dat daar voor die Groot Trek net eén kerkverband van die Calvinisties Hollandse Kerke was. Gedurende die eerste kwart van die 19de eeu word die naamkwessie 'n groot saak en begin Hervormd en Gereformeerd om bepaalde sake te beklemtoon. Wanneer die Groot Trek periode aanbreek word die naam Nederduitsch Hervormdgebruik. (Die formele aanneem van die naam NGK vir die Kerk in die Kaap word in 1842 finaal, dus na die Groot Trek). Die Trekkers neem hierdie naam na Natal en Transvaal. Dié naam word amptelik aangeneem deur die Transvaalse pioniers en die ZAR waarvan dit staatskerk word. Daarom dra die eerste gemeente in Transvaal, naamlik Potchefstroom, sedert haar stigting op 26 Maart 1842, hierdie naam. In 1859 vind die afskeiding van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika plaas.

Dit is egter vir genealogie doeleindes eenvoudig en die kerkverband ken sedertdien geen naamsverandering nie en het ’n eie geskiedenis. In 1885/1886 vind ‘n groot verandering op kerklike gebied in Transvaal plaas. Die NHK en die NGK wat onder Kaapse Sinodale werksaamhede ook in die ZAR gevestig het, kom tot ‘n vereniging. Dit sou lei tot die sogenaamde mislukte kerkvereniging omdat die NHK ook steeds as kleiner kerkverband voortbestaan.
Uit die vereniging waarin die NHK sowat tweederdes van lidmate afstaan, ontstaan ’n nuwe naam: Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk (NH of G Kerk; ook genoem in die volksmond die Verenigide Kerk.) Dit is dus eintlik die naam van die NG Kerk in Transvaal. Eers in 1962 sou die NH of G laat vaar word, en sou die kerk net as NGK (in Transvaal) voortgaan. Let maar op na hoekstene op kerke en seëls op lidmaatskapbewyse, attéstate en doopseëls. In ligte trant - daar is nie iets soos die “Gehervormeerde Kerk” nie – ’n vragie wat soms in die kerkargief navore spring in ‘n telefoon of epos navraag.
Die naamkwessie bring sekere vrae dadelik na vore. Die naamkwessie kan erg verwarrend wees en dit is dikwels die eerste stap om hierdie feite reg te kry en dit kan baie hoofbrekens voorkom. Stigtingsdatums van gemeentes is ‘n hulpmiddel maar los nie alle probleme op nie aangesien beide die NHK en NGK soms dieselfde stigtingsdatum gebruik. So word die oudste gemeentes bv Potchefstroom, Rustenburg, Zoutpansberg beide voorsien van dieselfde stigtingsjaar hoewel argiefdokumentasie dit soms nie duidelik maak nie omdat daar dan net éen doopregister bestaan.
Probeer in bogenoemde geval vasstel in watter argiefbewaarplek die register geberg word. Daar bestaan geen reel voor nie, dit is uitsluitlik histories bepaal.  Let verder op na die oorvleueling in die tydperk tussen 1885-1890. Dit is ’n tydperk waarin daar baie rondbeweeg is deur families. Die NHK was nog nie weer in alle dorpe, bv Pretoria, geherorganiseer nie, en families wat Hervormd gebly het kon dalk in bv 1889 nog in die NH of G Kerk gedoop het. Na 1890 keer die duidelike lyne weer terug. Dit beteken ook dat navorsers gedurende hierdie periode liefs moet seker maak dat registers in beide kerkverbande geraadpleeg word om te voorkom dat inligting verlore gaan.
Ander praktiese slaggate en oplossings in kerklike registers:
Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het veroorsaak dat heelwat registers verlore geraak het. Dit was veral in Oos-Transvaal die geval, bv Middelburg. Registers is verniel en aan allerlei beproewinge onderwerp. ’n Mooi voorbeeld van bewaring is die registers van die NHK Trichartsfontein (Secunda is na 1980 naby die dorpie opgerig). Die registers is gedurende die oorlog deur die familie van die eerste argivaris prof SP Engelbrecht, bewaar en selfs begrawe, om na die oorlog weer uitgegrawe te word. Dit word steeds bewaar.
Naamsveranderinge: Gemeentes se name verander mettertyd. Daarvan bestaan daar voorbeelde soos Zeerust wat tussen 1871 en 1923 as Marico bekend gestaan het. Aan die Rand het talle gemeentes gekom en gegaan. Germiston het eers as Oost Rand bekend gestaan en Delmas as Strydpan. Rondom Makwassie, Bosmansrust en Witpoort is daar nog ’n veel ingewikkelder verhaal. Die argivaris moet hierdie dinge weet, maar vir die navorsers se gerief is daar ’n volledige lys van naamsveranderinge en die name van ontbinde gemeentes op die webwerf van die kerkgeplaas by www.nhk.co.za . Die lys is ook gepubliseer in die Almanak (Jaarboek) van die NHk 2012 pp 120-121.
Oordragtermyne: Die NH Kerk, anders as in die NGK bepaal nie dat jaarlikse afskrifte van doop en lidmaat gegewens ingehandig word nie. Dit beteken dat die mees resénte inligting, en in  sommige gevalle dekades terug, slegs by gemeentes beskikbaar is. Daar is wel in 2008 afskrifte in hardekopie van gemeentes versoek, wat in groot mate ingehandig is. Die kontakbesonderhede is in die Almanak of op die webwerf beskikbaar.
Die registers van ontbinde gemeentes word wel aan die kerkargief besorg vir bewaring.
Huweliks- en Sterfteregister: Die huwelikswet se verandering het veroorsaak dat die kerk na 1972 nie meer huweliksregisters hou nie. Die NHK het nooit sterfregisters gehou nie.
Digitalisering: Daar is tans weer gesprekke met die Genealogiese Vereniging se tak (N- Gauteng) oor moontlikhede om registers meer toeganklik te maak deur transkribering en ons wil graag die projek uitbrei, ten einde toegang te verhoog en registers te bewaar. Tans is erg beskadigde registers van ongeveer 14 gemeentes wel onttrek en gefotografeer en getranskribeer deur ’n vrywilliger vanuit die Genealogiese Genootskap. ‘n Rekenaar is tans in prosés van instalering in die studiesaal wat gebruik sal kan word deur navorsers.
Die implikasies van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Wet nr 2 van 2000) WBTI word tans goed onder die loep geneem om allerlei uitkomste te hê wanneer die volle inventaris vanuit gemeentesbeskikbaar word. Vir alle navorsing word wel ‘n interne aanvraagvorm gebruik. Die argiefwet se embargo van 20 jaar op geslotenheid geld in die geval van kerkraadsnotules. Dokumente ouer as 20 jaar word as openbaar beskou, tensy dit spesifieke persone se privaatheid sou skend. Toestemming sal in so geval van ’n Kerkraad verkry moet word. Doopgegewens word as openbare aangeleenthede hanteer en is daarom openbaar. Huweliksregisters van gemeentes het reeds die 40 jaarmerk oorskry.
Waar en hoe is inligting nog beskikbaar?
Die Inventaris (toegange) van gemeentes van die NHK is via die National Archives (Staatsargief) se webwerf op hul NAAIRS bladsy beskikbaar. Sodoende kan vasgestel word of ‘n register in bewaring gegee word.
Mikroverfilming het in 1987 plaasgevind deur die Latter Day Saints (Mormone), nou bekend as Family Search en registers is met enkele uitsondering so raadpleegbaar in Parktown, Johannesburg en ’n tweede stel by GISA op Stellenbosch. Sedert 1987 is geen opdatering in die verband gedoen nie en gesprekke vir opvolgwerk mag moontlik in 2012 plaasvind.
Navorsing in die kerkargief : Weens die personeelbesetting (slegs een argivaris en een bibliotekaris) onderneem die NHK geen navorsing namens genealogiese navorsers nie. Wanneer een of twee kontrolerings van feite moet plaasvind kan dit gedoen word, mits ‘n gemeentenaam, datum en name verstrek word. Die kerkargief is op weeksdae toeganklik vanaf 8h30 tot 16h00, slegs per afspraak. ’n Dagfooi van slegs R 15 per persoon word gehef. Die gebruik van digitale fotografie is toegestaan.
E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of 012 322 8885 x 204, en vir liefhebbers: Posbus 2368 Pretoria 0001
Adres: Dirk van der Hoffgebou, Jacob Maréstraat 224, Pretoria, 2de vloer. Veilige parkering op die terrein.