Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika

N-Tvl Geskiedenis

Die Geskiedenis van die Noord-Transvaaltak

Linda Lombard - Agustus 2012

Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika is op iniasitief van mnr Philip Myburgh op die historiese plaas Joostenberg op 18 Junie 1964 gestig, met die Familia as mondstuk. Ds FGM (Frans) du Toit, argivaris van die NG Kerkargief,  is reeds in 1965 genader om as verteenwoordiger in Pretoria op te tree en JW du Preez in Johannesburg. Op 20 Mei 1966 is die Pretoriatak gestig met ds du Toit as die eerste voorsitter. Hy het hierdie amp beklee tot 1974.
Wrywing tussen Noord en Suid was nie net tot die rugbyveld beperk nie. Dit het selfs in die GGSA bestaan! In 1976 was slegs 24% van GGSA-lede woonagtig in die Kaap, maar die raad bestaan slegs uit Kaapse lede, administrasie word uit die Kaap gedoen en die Pretoriatak ontvang slegs ‘n ledelys en sukkel om finansies uit die Kaap te kry. Kennisgewings vir raadsvergaderings kom nie betyds by die Pretorialede uit nie en die konstitusie is deur die Pretoriatak onder leiding van Johan Krige hersien omdat die eerste een verouderd was. Johan Krige woon die vergadering van 4 Oktober 1976 op eie onkoste (R124 vir sy vliegkaartjie)  by in ‘n poging om tot ‘n vergelyk te kom. Hy word ampshalwe lid van die Raad, maar die wrywing neem nie af nie. Daar is selfs voorstelle dat die tak van die Kaap moet afstig.
Johan Krige begin ook in 1976 met ‘n GGSA-nuusbrief. Vir die eerste jaar dra hy hierdie koste ook uit eie sak. Na sy verhuising in 1979 het dr Fanie van Wyk, steeds lid van ons tak,  die nuusbrief by hom oorgeneem.
Robert Laing, van Johannesburg, stel in 1977 voor dat die tak se naam moet verander na Transvaaltak en dit word op die jaarvergadering van 15 Februarie 1978 goedgekeur. Die ledetal is nou 400 waarvan 43% in die Transvaaltak se gebied is.
Gedurende die 70’er tot 90’er jare vind slegs 2 tot 4 vergaderings jaarliks plaas en gewoonlik ook saans. Dr CL Grobler woon vergaderings vanaf Potchefstroom by en Robert Laing uit Johannesburg. Dieselfde onderwerpe en uitstappies as wat ons tans het, is ook toe gedek. Baie publikasies het ook die lig gesien. Boeke word verkoop teen sowat R5 stuk vir sagteband en R10 vir hardeband! En met tussen 150 en 320 bladsye.
1988 was 'n bepalende jaar vir die Transvaaltak toe besluit is dat daar  nog 'n tak hier in die noorde gestig moet word, nl die Suid-Transvaaltak. Die lede kon self besluit of hulle by Noord- of Suid-Transvaaltak wou aansluit. Daardeur het die naam verander na die Noord-Transvaaltak en die tak het van sy aktiefste lede verloor en het daar 'n tydelike insinking  plaasgevind.    
Linda Zöllner vertel: “Op die jaarvergadering in 1990  het daar net 7 lede opgedaag.  Martin het my net begelei omdat hy my gehelp het om die verversings te vervoer, hy was glad nie eens ‘n lid van die genootskap nie.  Toe die vergadering egter verby is was hy tot sy eie verstomming die nuwe  president van die Noord- Transvaaltak. Kolonel Martin Zöllner as voorsitter, Kaptein Ian van der Waag as onder-voorsitter en in 1992 kom Gen Maj D.S. Hamman ook op die bestuur.    Die situasie met ‘n kolonel as voorsitter en ‘n generaal op die bestuur het een keer daartoe gelei dat die kolonel per ongeluk die generaal as Daan aangespreek het – ‘n aardsonde in die militêre kultuur.  Kapt van der Waag het hom byna dood geskrik, maar die generaal het dit net stilweg laat verbygaan en darem nie die kolonel voor ‘n vuurpeloton gesit nie.”    
Teen 1995 het die aantal vergaderings per jaar  gegroei na 10 takvergaderings, die tak se algemene jaarvergadering en elf bestuursvergaderings. 'n Nuwe konstitusie is in 1995 aanvaar en in die jaar is ‘n taklid, Thys du Preez, ook aangewys as die Genealoog van die Jaar.
Vanaf 1996 beklee Noord-Transvalers die pos van Nasionale President. Martin Zöllner was die eerste, daarna Johann Janse van Rensburg (hy het wel na Kaapstad verhuis) en tans Hendrik Louw.
Noord-Transvaaltak het ‘n pragtige biblioteek opgebou. Genealoë het deur die jare hul werk aan GGSA geskenk, soos die Peter Holden-versameling. Die jongste groot toevoeging was die skenking wat Gert Claassen gedoen het in 2010 toe hy verhuis het. Daar is ‘n samewerkingsooreenkoms met die Erfenisstigting aangegaan om die boekery in hul biblioteek op ‘n bruikleenbasis te huisves. Dit gee die brëer publiek dus ook toegang tot hierdie navorsingsmateriaal. Lede moet onthou dat die biblioteek elke 2 de Saterdag van elke maand oop is vir GGSA-lede; al vergader die tak nie by die Voortrekkermonument of het geen vergadering soos in Desember en Januarie. Die biblioteek is oop vanaf 10:00 tot 14:00.
Daar is baie projekte waarby die tak deur die jare by betrokke was en nog steeds is. Die Killian-boek en van Wyk-cd het so die lig gesien en die projek wat waarskynlik nie ‘n einde sal kry nie, is die begraafplaasprojek. Talle ander publikasies het ook uit lede se pen, of liewer dan nou rekenaar gekom. Hopelik moedig die kompetisie wat ons nou vir die afgelope drie jaar het, meer lede aan om hul werk te voltooi. Dit is nie altyd nodig om ‘n volledige geslagsregister op te stel nie. Net die geskiedenis van jou tak van ‘n familie is ook baie belangrik. Drie waardevolle inligtingsbronne wat uit Noord-Transvaalgeledere gekom het is: Handleiding vir genealogiese navorsing van dr RTJ Lombard, Die Suid-Afrikaanse Genealogiese Verwysingsgids wat deur Daan Hamman saamgestel is en ons tak se eie verwysingsgids van lede se navorsingsvelde en kontakbesonderhede wat deur Margaret Lodder saamgestel is en nog steeds jaarliks deur die bestuur op datum gehou word.
Noord-Transvaaltak het en maak nog steeds ‘n groot impak in genealogiese geledere. Dit is die grootste landgebaseerde tak van GGSA en die bywoningsyfer is baie indrukwekkend. Lede is veral oor die ou Transvaal versprei maar daar is selfs ‘n lid vanuit Ierland! Die lid wat die verste reis om vergaderings by te woon is waarskynlik Dopper Kruger vanaf Louis Trichardt. En dit is wat ons tak se sukses is – ons mense. Baie interessante mense.
Inligting is verkry vanaf  Thys du Preez, Linda Zöllner, Isabel Groesbeek, Frans Fouché en ou nuusbriewe vanaf Ludwig Döhne, asook notules van die tak.