Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika
  • Tuisblad
  • Herald-NW Genealogie Reeks
  • Ontmoet die Familie Oelofse

Ontmoet die Familie Oelofse

                                                                                                                                  Potchefstroom Herald 2 Maart 2017
Die ontstaan van die Oelofse’s as Suid-Afrikaanse familie is, glo dit as u wil, deur die lot beslis! In ‘n ou VOC regsdokument is die verhaal hoe die Oelofse-Familie in Suid-Afrika sy beslag gekry het.
In die eerste deel van die dokument gedateer 24.03.1668 verskyn ‘n opsomming van aanklagte wat in die openings verklaring weergegee word: “Alsoo Andries Oloffse van Cristiaan Stadt oudt 26 jaaren, geweesen matroos in dienst der ed. compe.op t' Huijs te Velsen jegenwoordig 's Heeren ...”
Die 26 jarige Andreas Oelofse was afkomstig van Christiaanstad (Oslo). Opgesweep deur ‘n mede-passasier op die skip, het hy ingestem deel te wees van ‘n komplot om die skip se offisiere in hul kajuite te vermoor. Vir die doel het hy ‘n mes in sy sak versteek en ene Hans Oelsen sou hulp verleen.
Die tweede deel handel daaroor dat ‘n regering wat wet en orde handhaaf nie sodanige dade kan oorsien nie en dat ‘n voorbeeld van hom (en ander) gemaak moet word deur aan hulle die maksimum voorgeskrewe straf op te lê.
Hy het voor die Kommisarisse van die hof, die Kommandeur, asook die bevelvoerders van retoervloot (wat op daardie stadium in Tafelbaai voor anker was) verskyn en is gevonnis in die naam van van die “Staten Generaal de Verenigde Nederlande”.
Die vonnis het bepaal dat sy lot (om te lewe of te sterwe) op die dag en plek van teregstelling bepaal sou word deur trekking van een van twee strooitjies. - Indien hy die kort een trek, was die vonnis dat hy “aan sy nek sou hang totdat hy dood is en al sy bates en besittings sou konfiskeer word”.
Indien hy egter die lang strooitjie sou trek moes hy die maksimum aantal houe met ‘n rottang ontvang terwyl hy op die skavot staan met die galgtou om sy nek, waarna hy met brandyster as krimineel gebrandmerk sou word. Daarna moes hy ook nog 25 jaar op Robbeneiland in kettings deurbring en ook sy besittings aan staat afgee.
Die blote feit dat hy minder as twee jaar later getrou het maak dit duidelik watter strooitjie hy getrek het!
Andreas Oelofse trou op 14.4.1690 te Kaapstad met Sara Van Gyselen d.v. Leendert Janz van Gÿselen en Maria Willemsdogter van die Kaap. (Daar word ook na haar verwys as "Sara from the Cape, a half-caste female belonging to the Company, promised that upon her death (and after her marriage to Andries Oelsen), she would leave half her possessions to the Company in return for the education she had received as child).
Hulle kinders was:
b1 Leendert *ca 1690 x 16.8.1711 Margaretha Beyers *ca 1690 -3 seuns, maar hulle nageslag is redelik klein in getal.
b2 Fure *ca 1692.
b3 Dorothea *ca. 1695 x 7.1.1709 Cornelis Campher +ca 1686.
b4 Margaretha *ca 16.9.1696 x 24.3.1726 Johann David Pfannenstiel xx 27.8.1741 Heinrich Fehrsen.
b5 Sara Magdalena *ca 1698 x Kaapstad 2.12.1731 Johan Michiel Kromhout van Königsberge.
b6 Cornelis *ca 1699 (ongetroud).
b7 Anna *ca 1703 x 2.3.1721 Johann Adam Clank van Naumburg.
b8 Johannes *ca 1706 (ongetroud).
b9 Roelof *ca 1708 +26.09.1743 x 15.08.1728 Sara Cordier *Paarl 1713. Die egpaar het 4 kinders (2 dogters en 2 seuns) gehad en die jongste, Andries x Maria Susanne Roi, is waarskynlik voorouer vir die meeste Oelofse’s in Suid-Afrika. Hy was “baaspadmaker” van die Langkloof. Die egpaar het gewoon op die plaas Rietvlei waar die dorp Uniondale aangelê is.
Die mees bekende Oelofse is sekerlik Hansie, sprinbokskrumskakel in 1953. Lt. Nicolaas Petrus Oelofse was tydens die tweede Vryheidsoorlog ‘n knap kannonier.

Bronne:
Heese J.A: Suid-Afrikaanse Geslagregisters. Vol 7 O-Ph. GISA 2002;
www.genza.org.za
http://www.stamouers.com