Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika

Die Duitse Belangegroep

Geskryf deur Trudie Marais.
5 Februaie 2013

Op 18 Junie 2009 het 'n klein groepie, sewe om presies te wees, besluit om 'n Duitse Belangstelling Groep te stig.
Sederdien vergader ons een maal per maand aan huis van een of ander lid van die groep. Gemiddeld is ons nou so 14 lede saans, maar ons was ookal 20 en 25 vriende wat saam gekuier het. Ons vergaderings is gesellig en informeel. Ons het nie 'n komitee nie, vra nie ledegeld nie en maak nie lang toesprake nie. Daar word gewoonlik 'n gasspreker vir die aand oorgenooi. Na die praatjie verdaag ons en geniet 'n
koppie tee of koffie en iets te ete daarby, wat deur die gasvrou geskenk word. Die gesprekke daarna raak soms so interessant en die lede raak so entoesiasties oor die onderwerp, en die spreker word so met vrae gepeper dat dit moeilik raak om huis toe te gaan. Dis heerlike gesellige opbouende leersame gespreks - aande. Soms hou ons 'n ledeaand wat nogal baie gewild is. Enigeen wat iets het om te vertoon wat hy geërf het of om mee te deel van sy Duitse voorgeslagte, kry 'n beurt. Op die wyse het ons al baie interessante dinge gesien en van gehoor.
Ons het almal 'n belangstelling in ons Heimatland, aangesien almal een of meer Duitse voorouers gehad het. Meestal stam ons voorouers af van die groepe Duitsers wat hulle tussen 1857-1859 in die Oos-Kaap gevestig het. Jammerlik is daar min van die lede wat nog die Duitse taal magtig is. Ons taalgebruik is

Klik op die foto te vergroot

imageimageimageimageimage
UitstapUitstapUitstapUitstapUitstap

Engels of Afrikaans volgens eie keuse. So een maal per jaar woon ons 'n kerkdiens in die Lutherse Kerk by. Rev. Felix Meylahn lei die dienste. Die dienste word in Engels gehou, met twee addisionele Duitse dienste per maand. Die Lutherse Kerk gemeenskap hou hul Kersmark gedurende November, waar eg Duitse kos en koek asook handwerk te koop aangebied word.

As ek maar van die, vir my persoonlik, enkele hoogtepunte kan uitlig, was toe ek die groep op 'n naweek uitstappie na die King Williams Town omgewing geneem het. Om nie herhalend te wees nie, gaan ek sommige van die hoogtepunte van die toere kombineer. Ons het vroeg die Saterdagoggend vanuit Port Elizabeth na Kidds Beach vertrek, waar ons oornag het. Hiervandaan het Jennifer ons in haar sestien sitplek bussie vervoer. Ons het eerstens na die Amathole Museum in King Williams Town gegaan. Stephanie Victor, die historiese kuratrise van die museum, het ons deur die Duitse Setlaar Uitstalling van die museum begelei. Clive en Dot Goetsch was heel verras toe hulle die muurskildery sien en besef dis geskilder van die presiese foto waarvan hulle ook een in hul besit het, naamlik Clive se Duitse oupa en ouma se huisie in Oos-London. Ek kon 'n foto neem waar hulle heel natuurlik met die huisie op die agtergrond saamsmelt. Dot is van die weiniges in die land wat nog die egte tradisionele manier van handkant maak bemeester. Sy was heel opgewonde om te sien dat een van die uitstal poppe se rokke 'n soortgelyke kant insetsel in het.Op ons lys van besienswaardige besoekpunte, was onder andere die Lutherse Kerke in King Williams Town en Oos-London. Laasgenoemde spog met 17 van die pragtigste brandglas vensters in die land. Dit was geskenke vanuit Duitsland. Die aanvoerder van die destydse setlaar groepe was verantwoordelik vir die benaming van die nuut gestigde dorpies waar die setlaars in tuis gegaan het. Was dit om die verlange te stil, die heimwee draagliker te maak, of om nie die kontak met die Vaderland heeltemal te verbreek nie, dat plekkies soos bv. Berlin, Braunschweig, Breidbach, Frankfurt, Hannover en Ohlsen ontstaan het?
Stutterheim was vernoem na Baron von Stutterheim, die aanvoerder van die Britse Duitse Legioen Soldate wat in 1857 na Suid-Afrika gekom het. Ons het ook die twee Duitse Setlaar Monumente wat in King Williams Town en Oos-London , ter nagedagtenis`aan die Duitse Setlaars opgerig is, besoek.
Uit die aard van die saak, en omdat dit tans nog redelik toeganklik is het ons die kerkies, begraafplase of ruïnes wat nog uit daardie tydperk staande gebly het, besoek. Dis met hartseer en ongeloof dat mens voor 'n kerkie of in 'n begraafplaas staan, wetende dat jou voorouers met soveel swaarkry, van hul skamele besittings en inkomnste moes "afknyp" om die kerkies en begraafplase op te rig, en jy aanskou die agteruitgang en vandalisme voor jou eie oë.
Met ons tweede besoek kon ons selfs die drastiese agteruitgang in sommige dorpies waarneem. Die kerkhof in Frankfurt het die weiveld vir beeste geword. Die ysterhek wat ons nog die vorige keer kon toemaak, het eenkant afgebreek gelê. Teen hierdie tyd het dit ookal moontlik 'n rusplek in 'n skrootwerf gevind. Daar is al verskeie pogings aangewend om bewaring, maar helaas, onsuksesvol. Indien daar iemand is wat nog enigsins, veral die klein genoemde plekkies wil besoek, raai ek hulle aan om dit so gou as moontlik te doen. 'n Mens weet nie vir hoelank dit ons nog beskore sal wees om dit te besoek nie.
Terwyl ons so in die omgewing rond gery het, kon ek nie help om te wonder watter emosies die Setlaars ervaar het by die aanskoue van hul nuut gevonde vaderland nie. Verseker moes daar baie vrae, heimwee, hartseer, maar ook opgewondenheid gewees het. Ek het gestaar na 'n landskap waarmee Sir George Grey die Setlaars hierheen gelok het....."Rolling green Valleys...." (For Men Must Work. Dr. E.L.G.Schnell). Hierdie voorsate het hulle nie laat onderkry deur droogtes, mislukte regerings beloftes en harde werk nie. Eiehandig moes hulle die klip gaan kap vir die oprig van hul tuistes. Hul swaarkry het hulle met harde werk klaargekry. Die deeglikheid waarmee hulle hul werk aangepak het, is vandag nog te sien in enkele van die kliphuisies wat nog staande gebly het. Hul goeie genes is 'n erfporsie om op trots te wees.
Met ons tweede besoek het een van Breidbach se inwoners ons na die musikale rots toe vergesel. Dis twee rotse opmekaar en troon hoog bo die groep se koppe uit. As daar bv. met 'n voorwerp soos 'n hout hamer op die rots geslaan word, klink dit soos die gebeier van kerk klokke. Die toonhoogte en intensiteit van klank verskil rondom die rots. Voorwaar iets unieks. Geen wonder dat die kerk gemeenskap die naam van Bell Gemeente aanvaar het nie.
Daar is nog soveel in hierdie gebied waaraan ek nie nou geraak het nie. Dis moeilik om hierdie ervarings en herinneringe in woorde vas te vat. Miskien moet ek volstaan by een woord ------- ONVERGEETLIK!
Organiseerder van die groep,
Trudie Marais
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.