Suid-Kaap vier Genealogie 50

{artsexylightbox path="images/stories/Suid-Kaap/GGSA50jaar" previewWidth="160" previewHeight="160"}{/artsexylightbox}

Abrie de Swardt.
Klik op die foto om te vergroot-Foto geplaas met erkenning aan die Eden Express van George. Die 50ste verjaarsdag van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) is op Woensdag 18 Junie 2014 behoorlik gevier deur die Suid-Kaapse tak in ‘n feestelike middagete en viering by die Coffee and More Koffiehuis opGeorge.
Tydens die feestelike vrolikheid tussen 1200 en 1400 is ‘n terugblik gelewer oor die eerste dekades van die werk van die Genealogiese Genootskap, deur een van sy eerste nasionale sekretarisse, Alex Smith, wat hom in die afgelope paar maande op George kom vestig het. Smith het as gasspreker opgetree, en het vertel van die vroeë dae en die betrokkenheid van die bekende dr Cor Pama, skrywer van die “Groot Afrikaanse Familienaamboek” en ander stigterslede van die GGSA. Hy het ook uitgebrei oor die interessante eerste dae van ‘Familia”, en hoe die tydskrif bekend gestel en versprei is. Verder het Alex oor sy eie familiegeskiedenis vertel, en van sy Sweedse oupa wat vir hom na die Eerste Wêreldoorlog in Suid-Afrika ‘n tweede vrou kom vat het. Na drie dekades van navorsing oor sy Sweedse familie het hy vyftien jaar gelede op sy oupa se spoor en foto, wat hy aan almal gewys het, afgekom. Alex Smith het reeds verskeie skenkings aan die Suid-Kaapse tak vir ons eie biblioteek gelewer, wat baie uitgawes van Familia en ander tydskrifte oor genealogie insluit.
Met die hulp van Wilkie Barkhuizen (onder-voorsitter Suid-Kaap GGSA), en Chris Hattingh, entoesiastiese koster van die historiese meer as 200jarige NG Moederkerk op George, is daar vanaf 1200-1215 ‘n klokkespel uit die toring van die kerkgebou gewees om die vyftig jaar van genealogie luisterryk te vier. Terwyl die kerkklokke oor George gebeier het, het 32 aansittende entoesiastiese Suid-Kaapse taklede en vriende op voorstel van Abrie de Swardt, voorsitter Suid-Kaap se tak, GGSA, 'n glasie sjampanje gedrink en geskink op die vyftig jaar van familiegeskiedenis binne die GGSA. Daar was baie vrolikheid en saampraat, met pragtige gedekte tafels onder leiding van die Suid-Kaapse tak se voorslag sekretaresse, Mandy Jansen.
Met heerlike kos opgedis deur Coffee and More, kon lede vir twee ure met baie opwinding saamgesels, en is verskeie moontlikhede bespreek hoe die Suid-Kaapse tak sy wortels verder oor verskeie dorpe van die Suid-Kaap kan uitbrei. Op 20 Augustus word ‘n gesellige vergadering in die Dias Museum op Mosselbaai beplan van 1400-1600, wat ten doel sal hê om ledewerwing met aktiwiteite van Mosselbaai tot Stilbaai te doen. Die bestuur beplan om in noue samewerking met die museums, en ander naby belangstellende organisasies, soos die Outeniqua Historiese Vereniging verdere bouwerk aan familiegeskiedenis onder Suid-Kapenaars te verrig.

  • Hits: 10983