Wanda Minnaar

Soos meeste genealoë was daar vir my ook al oor die jare asem ophou oomblikke:   kan dit regtig waar wees?  Het ek regtig die skakel gevind? Twee sulke oomblikke sal my altyd bybly.

Ek het met hierdie stokperdjie begin omdat ek die vraag wou antwoord of ek ʼn Hugenoot Minnaar is en of my voorouers dalk latere immigrante was. 

Teen die tyd wat die genealogie gogga my gebyt het, was beide my ouers reeds(vroeg) oorlede.  My Dadda was die 12de van 13 kinders.  Sy suster net ouer as hy,  het drie getikte bladsye gehad waar die broers en susters en hul gades en meeste van die kinders aangeteken was.   My tante het vir my ʼn afskrif gegee.   Dit was ʼn vertrekpunt.   Net sover terug as my oupa Jacob Pieter MINNAAR.

Soos die proses werk, het ek op oupa Jacob se sterfte kennis (SK) in die Pretoria Argief sy ouers se name gekry en op grootoupa Johannes Stefanus Josua se SK weer sy ouers, Jacob (sonder die Petrus/Pieter) en Susara Susanna (sonder die Aletta) Minnaar (eintlik Joubert).  Ek het ook  my grootoupa, Johannes Stefanus Josua MINNAAR, en -ouma, Martha Johanna ROUX, se huweliksbevestiging in die NG Kerk, Kaapstad, op ʼn mikrofilm by UNISA gevind.   En dit was al wat in die noorde beskikbaar was.   Die res is in die Kaap.

In die Kaapstad Argief volg ek weer die SK-lyn.   Op Jacob Pieter (gedoop Petrus) MINNAAR se  SK is ʼn seun Johannes Josua maar geen Johannes Stefanus Josua.  Die SK-lyn dui daarop dat ek wel ʼn Hugenote Minnaar is MITS ek Johannes Stefanus Josua kan vind.

Doopregisters is volgende.  In die Drakensteinse doopregister vir  4 Sept 1839 doop Jacob Pieter MINNAAR en Sara Susanna Aletta JOUBERT ʼn seun, Jacob Pieter Minnaar wat volgens die doopregister op 9 Mei 1839 gebore is.  Hierdie kind verdwyn uit die rekords.   Hy verskyn nie in SAG nie en ook nie op sy vader se SK nie.   (Die Jacob Pieter wat wel verskyn is uit sy tweede huwelik gebore.)

Op 12 Maart 1843 doop Jacob Pieter MINNAAR en Sara Susanna Aletta JOUBERT weer ʼn seun, Johannes Stephanus (sonder die Josua) maar sy geboorte datum is 7 Februarie 1843!!!   Uiteindelik:  ek het my grootoupa gevind – al het die skriba ʼn fout gemaak -  en kan bevestig dat ek Hugenote bloed in my are het.

Terwyl ek so met die Minnaars besig is en danksy Alex Fuchs se Du Toit-boek, ook met my mamma se Du Toit-lyn,  word die skreiende afwesigheid van  groei in ʼn bepaalde kwartier staat al hoe meer opvallend.

Wie was Alida Jacoba NIEMAND, *20 November 1876:  my Dadda se moeder?  

Ek het heelparty Alida Jacoba NIEMAND's raakgesoek maar nie een was die regte een nie.   Die streng volgorde van die naamgewing van haar kinders het ʼn leidraad besorg.   Die eerste kind was Martha Sophia.   Sy is jonk oorlede.   Familie legende het dit dat sy deur ʼn slang gepik is.   Die dertiende kind is weer Martha Sophia.   Dit het my laat dink dat Martha Sophia dan Alida Jacoba se moeder moes wees.

Ek het op Family Search AL die Vrystaatse doopregisters vir die periode 1876 – 1886 deurgewerk.  Al die Vrystaatse huweliksregisters vir die periode 1860 – 1878 ook.  Niks.   Niks.   Niks.   7 jaar lank.

In September 2017 is ek in die Kaap en het tyd om een oggend gou by GISA in Stellenbosch ʼn draai te gaan maak.   Daar kry ek Alida Jacoba, gebore 20 November 1876, gedoop  Februarie 1877, in ʼn Kroonstad doopregister.   Maar met die vinnig kyk na mikrofiche's is die pa nie NIEMAND nie so ek ‘blaai om' en kyk nie verder nie.

Op 28 Oktober 2017 sit ek in die biblioteek by die Erfenis Stigting, Voortrekker Monument, Pretoria, op die rekenaar en werk en kom op ʼn doopregister vir Kroonstad af  en daar vind ek vir die periode 1881 tot 1889 vier kinders wat gedoop word vir die ouerpaar Carel Willem Pieter NIEMAND (wat ek geweet het Alida Jacob se pa was) en Martha Sophia VERSTER.   Al hierdie kinders het aangewese doopouers want hulle by die oudste van hulle is die inskrywing “onecht”.  Die res het nie die “onecht” inskrywing nie maar by een word wel “gratis” aangedui.  “Echt” of nie, “gratis” of nie, ek het Martha Sophia gevind.

Ek soek verder en kry ʼn Bothaville huweliksregister onder oë.  En voorwaar op 21 Mei 1894 is Carel Willem Pieter NIEMAND (50 jaar oud) en Martha Sophia VERSTER (42 jaar oud), getroud!

Ek sal, wanneer ek eendag weer in die Kaap is, teruggaan GISA toe en weer na films 471 en 472 gaan kyk en daardie Alida Jacoba se doop inskrywing goed bekyk.   Ek vermoed dat haar doopouers se name in die ‘ouers' kolom ingevul is en dat haar biologiese ouers se name waarskynlik in die getuie kolom verskyn.

Kan ek al juig oor Alida Jacoba NIEMAND?  Streng gesproke seker nie maar ek het net die ‘gevoel' dat ek haar gevind het.   ‘My' Alida Jacoba se kwartier staat is nou nogal indrukwekkend!   Ek hoop dit bly so.

En hoekom het ek nie na haar ouers se SK's  gekyk nie?   Want daar is nie.   Hulle was ʼn ARM mense.  In die argief is ʼn velletjie papier wat sê hy is oorlede en kan die leen beeste maar aan sy weduwee gegee word.

Daar word dus aanhou soek.   Tot jy vind.  ÃŠrens is daar iets.